Local newsNewsNews

Vermeende voertuigdief in Potchefstroom vasgetrek

Die Renault Megane, wat na raming sowat R160 000 werd is, is deur die polisie gekonfiskeer.

’n 40-jarige man is in Potchefstroom in hegtenis geneem nadat ’n gesteelde Renault Megane tydens ’n intelligensiegedrewe polisie-operasie opgespoor is.

Lungekile Michale Hobe is Donderdag 10 September in die vroeë oggendure by ’n vulstasie langs die N12 in Potchefstroom in hegtenis geneem.

Die arrestasie volg nadat die Noordwes Provinsiale Oortredingspan, in samewerking met die Dr Kenneth Kaunda (Dr KK) Flying Squad, die Dr KK Vehicle Crime Investigation Unit (VCIU) en BELREX, op Woensdag 9 September inligting ontvang het oor ’n Renault Megane wat vermoedelik gesteel is en in Potchefstroom opgemerk is.

Lede van die Dr KK Flying Squad het die voertuig by die vulstasie gewaar en dit genader. Hobe is in hegtenis geneem en word aangekla van die besit van ’n gesteelde motorvoertuig.

Die Renault Megane, wat na raming sowat R160 000 werd is, is deur die polisie gekonfiskeer.

Volgens die polisie het verdere ondersoek aan die lig gebring dat Hobe na bewering tydens die diefstal van die Renault Megane in Ventersdorp ’n wit Ford Ranger-dubbelkajuit agtergelaat het. Dié voertuig is later as gesteel aangemeld nadat dit gedurende Augustus 2026 by Mooifontein gesteel is.

Hobe word ook verbind met die diefstal van ’n skootrekenaar en selfoon in Ventersdorp.

Hy het Vrydag 11 September in die Potchefstroom-landdroshof verskyn en is in aanhouding gehou tot sy volgende hofverskyning op Vrydag 17 September plaasvind.

Kolonel Adéle Myburgh, polisiewoordvoerder, sê die arrestasie is die resultaat van intelligensiegedrewe polisiëring en samewerking tussen die verskillende eenhede en sekuriteitsmaatskappye.

“Hierdie arrestasie en die opsporing van die voertuig toon weereens die belangrikheid van intelligensiegedrewe polisiëring en doeltreffende samewerking tussen ons gespesialiseerde eenhede en sekuriteitsmaatskappye,” sê Myburgh.

“Ons sal voortgaan om elke leidraad op te volg en die bedrywighede van misdadigers wat by die diefstal en handel in motorvoertuie betrokke is, te ontwrig.”

Sy het die lede wat by die operasie betrokke was, geloof vir hul waaksaamheid, toewyding en vinnige optrede.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

Tania Coetzee

I am a passionate journalist and photographer. I have been a photographer for 15 years and a journalist for 4 years. I recently started working for Potchefstroom Herald. I love writing people's stories and showcasing their inner beauty through photography.

Related Articles

Back to top button