EntertainmentLifestyle

So loop ek toe deur: ʼn Indruk van DEURnis

** Hier is nie spoilers nie. Al het ek en jy presies dieselfde goed gesien, gaan jou waarneming en ervaring beslis van myne verskil. Ek was doodbang voor die tyd. Wat behels dit om een teaterganger te wees terwyl een akteur optree? My naels was tot in die sagtheid deurgekou, minwetend dat ek die ervaring …

** Hier is nie spoilers nie. Al het ek en jy presies dieselfde goed gesien, gaan jou waarneming en ervaring beslis van myne verskil.

Ek was doodbang voor die tyd. Wat behels dit om een teaterganger te wees terwyl een akteur optree? My naels was tot in die sagtheid deurgekou, minwetend dat ek die ervaring nimmer sal vergeet. Niks kon my gereed maak vir wat ek sou beleef nie.

Alles het begin toe ek aangekom het by die venue en ek ‘n vrywaringsvorm moes teken waarin jy instem dat jy mag uitloop indien jy ongemaklik voel en dieselfde geld vir die akteur! Ek retireer vir ʼn oomblik – wat gaan hier aan? Ek teken toe dadelik, ek moes ʼn vrywaringsvorm laas op skool (skelm) teken toe ons dieretuin toe was! Ek word toe gevra in watter volgorde ek die tonele wil sien (elke pakket bestaan uit drie tonele van om die 15 minute elk). Ek antwoord toe ek sal dit wil sien in die volgorde waarin dit in die program staan, ek glo vas daar is ʼn rede vir die spesifieke volgorde. Ek kry toe die nommer “22” toegeken. Totale lukrake nommer sommer op ʼn verlepte stukkie papier geskryf, maar hy is in my dagboek geplak!

Toe al die mense (slegs ses persone) opdaag, neem hulle ons met ‘n sambreel by ‘n grondpaadjie langs. Dit reën, die atmosfeer is beslis effens onheilspellend. Die tafel is gedek. Drie persone per pakket; hulle bied twee per tydgleuf aan en roteer dan die tonele tussen die drie mense wat dieselfde pakket kyk. Ons word verdeel in twee groepe en ‘n rooikopvrou lei my groep. Sy waarsku my voor ek ingaan – hierdie toneel bevat volle naaktheid, as ek ongemaklik voel, moet ek hard teen die deur stoot om uit te kom…

Ek loop in by Rou en gaan sit op ‘n stoel voor ‘n vuil, dun matras terwyl ‘n kaal man met sy rug na my sit en hy sê ek moet ‘n rukkie wag, ons kom te vinnig die kamer binne. Dit was van die begin af verskriklik hoe hierdie akteur oogkontak met ‘n mens behou terwyl hy mensehandel en sekslawery so ‘eerstehands’ met jou deel. En al besitting wat hy het, is ‘n Gummibear t-hemp wat hom lankal nie meer pas nie. Maar hy het Lenny (dink ek was sy naam) gedreig en gesê as hy nie die hemp mag hou nie, gaan hy homself uithonger. Bloedmerke op sy bene en die matras en ek is die heeltyd gespanne. Toe hy my uitjou as die man wat hom verkoop het en dat grootmense na kinders moet kyk, was ek al aan die bewe. Hy het geslaan aan die deur en oomblikke later op die matras neergesak, toe maak die deur oop en is die vyftien minute is verby.

Vir die volgende toneel, Hoffie, word ek by trappe opgelei en aangesê dat ek op die wit kussing te sit. Toe ek binnekom, begin ‘n kabaret. Die man sing, hy het ‘n vereserp en hy sing uit volle bors. Rooi lippe, oogskadu en groen oë. Oogkontak wat nie ophou nie. Intussen vertel hy van hom en sy kêrel wat so geoordeel is. En dat almal in die wêreld dink hulle is regters. Ek het uit die konteks afgelei sy kêrel is dood. Hy het langs my kom sit en foto’s gedeel waarna ek gekyk het. Daar was heeltyd so ʼn skerp lig in my gesig en dit was asof die rolle omgeruil is: ek is in die kollig. Die (gewoonlik) passiewe kyker is nou die fokus. Ek was hier ook die heeltyd gespanne en wou so graag begin terugpraat! Later het hy die deur self vir my oopgehou, gesê ek moet loop, toe is dit ook vir eers verby..

Laastens was daar nog net Student. Die toneel is (of begin as) veel ligter vermaak as die ander twee. Die vrou het ingekom en die gek dadelik begin skeer met haar ‘kliënte’ en ook die eienaars van die ‘gastehuis’ waarin ons gesit het. Toe bied sy selfs vir my wyn aan! Toe vat ek ‘n glas rooiwyn! Dis die enigste keer die byna 90 minute wat ek gepraat het – om te sê ek soek ʼn glas rooiwyn. Dit was heerlik en vréémd. En sy wil net hê ek moet van haar dienste gebruik maak en sy bied pryse aan, ens. Sy is al agt jaar op universiteit en studeer eintlik ‘n graad wat net vier jaar moes wees. Sy het egter baie geleer deur haar sekskapades by die onderskeie dosente. En sy praat oor haar ouers wat nog maandeliks vir haar tweehonderd rand inbetaal. En wat kan ʼn mens vandag doen met tweehonderd rand? Dan lui haar foon en sy se net “Positief? Dit kan nie wees nie”. Daarna bel ‘n kliënt en verskoon sy haarself en is die toneel ook verby.

Ek is eintlik nog tussen niks en nêrens sedertdien, maar ek wou iets hieroor skryf. Ek kon ook verkeerd onthou het wat in elke toneel aangegaan het, dit was net so ʼn intense ervaring. Bonatuurlik is ook ʼn manier om dit te beskryf, nie onnatuurlik nie. Dat iemand net vir jou opvoer. Vir jou kyk en sekerlik dink wat deur jou kop gaan. Ek weet nie. Vir my is dit net asof mense waarmee jy daagliks te doen het jou nie eers in die oë kyk wanneer hulle met jou praat nie. Al wat ek weet is dat dit asembenemend was. Iets waarvoor ek doodbang was vooraf, en oneindig dankbaar was agterna. My moed het my nie begewe nie en ek dink die impak daarvan is nog besig om te vorm. Ek wil elkeen wat al DEURnis beleef het aanmoedig om indrukstukke soos hierdie te skryf. Dis juis nie ʼn resensie nie, want ek kan dit met niks anders vergelyk nie. Ek stoei ook al ʼn week om iets te soek om krities oor te wees, want iets kan sekerlik nie perfek wees nie?

Volg DEURnis gerus op hulle verskeie sosialemediaplatforms om op hoogte te bly van toekomstige optredes:

Facebook: DEURnis

Instagram: @deurnis

Webtuiste: deurnis.co.za

*Benito Trollip is ‘n Ph.D-student in Afrikaanse en Nederlandse Taalkunde aan die NWU se Potchefstroomkampus. Hy het ook ‘n onversadigbare passie vir Afrikaans. 

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

wouterpienaar01

I am the editor of the Potchefstroom Herald since January 2026. I have a keen interest for sport and local community news. I have more than a decade of experience covering various beats. Journalism is a lifestyle.

Related Articles

Back to top button