Potchefstroom danser skitter in New York
Anellé dans al vandat sy 10 jaar oud is.
Dit was nog altyd Anellé Arbuckle (21) se grootste droom om op die verhoog in New York te kan dans. Die oud-Gimmie en NWU-student se droom het uiteindelik waar geword toe sy Suid-Afrika in Julie by Talent America verteenwoordig het.
Anellé dans al vandat sy 10 jaar oud is. Sy het by Talent America al vier haar danse in verskillende dansstyle gewen. Sy is die algehele wenner van ouderdomme 18 tot 24 jaar, die algehele wenner in die dansafdeling vir alle ouderdomme en algehele wenner internasionale hoogste telling van alle items.
Boonop het sy die tweede hoogste telling algeheel van alle items, en vierde hoogste telling algeheel van alle items behaal. Agentskappe wat die kompetisie bygewoon het wil graag hê Anellé moet akteursklasse, sangklasse en modelklasse neem.
“Hulle was verstom toe hulle hoor sy is self die choreograaf van al haar danse. Hulle het gesê sy is ‘n uitstekende danser,” vertel Lazellé, Anellé se ma.
Sy het vir Anellé na New York vergesel. “Dit is ‘n onbeskryflike belewenis om daar te wees en te sien hoe jou kind haar droom bereik. Ek het hoendervleis gehad. Ek is so trots op haar.”
Die gesin wil graag elke persoon bedank wat ‘n bydrae gemaak het om te help om Anellé se droom waar te maak.




