Van die Redakteur: Die hoender of die eier?
In die geval van die JB Marks Munisipaliteit moet die vraag liewer gevra word, die trok of die pad?
Wat was eerste, die hoender of die eier? Dit is ’n vraag wat al telkemale om braaivleisvure gevra is. Dit is ook ’n vraag wat nog nooit ’n definitiewe antwoord gekry het nie. In die geval van die JB Marks Munisipaliteit moet die vraag liewer gevra word, die trok of die pad?
Die munisipaliteit het Maandag ses splinternuwe vullisverwyderingstrokke onthul. Dié nuwe trokke is aangekoop om die chaos van vullisverwydering aan te spreek. Op ’n tyd was daar slegs twee vullisverwyderingstrokke op die pad. Tog is deel van die probleem die pad wat na die vullisterrein gery moet word. Die pad het al so versleg dat die munisipaliteit verlede jaar besluit het om dit eerder na ’n grondpad af te gradeer. Dit sal natuurlik beteken dat dit wat van die pad oor is, geskraap moet word.
Dit het nog nie gebeur nie. As die pad nie herstel gaan word nie, gaan dieselfde probleme wat met die ou trokke ervaar is, kort voor lank ook met die nuwe trokke ervaar word. Dit is bykans onmoontlik om op die pad te ry sonder om voertuie te beskadig.
So nou vra mens weer, wat is veronderstel om eerste te kom? Die trok of die pad? Sonder trokke kan vullis nie verwyder word nie, maar sonder ’n ordentlike pad waarop die trokke kan ry, gaan die trokke net weer breek en sal daar weer nie vullis verwyder kan word nie. Dalk kan die administrateur wat nog aangestel moet word meer duidelikheid gee oor die vraag.
Terwyl die administrateur besig is om raaisels op te los, kan hy/sy dalk die raaisel van die R1.3 miljard onreëlmatige uitgawes, wat die munisipaliteit al sedert 2012 opgaar, ook vir die inwoners oplos. Dit is dalk makliker as die hoender of die eier-raaisel.



