NWU tennisster slaan kompetisie vir ‘n kishou
Onder die afrigting van Riaan Venter, is hierdie NWU tennisspeler kort en kragtig op die baan met die nodige wilskrag om haar opponent uit te stof.
Sy naam is Schalk, Schalk Pretorius. En as dit nie vir Schalk Pretorius was nie, was die Noordwes-Universiteit (NWU) ’n tenniskampioen kwyt.
Jare terug, in die mielieboergemeenskap van Bothaville, besluit ‘n jong Schalk dat hy gaan begin tennis speel.
Goed so, sê ma Erika en pa Vickus, tennis sal jy speel.
As die een kind speel sal die ander een ook en Schalk se drie-jaar-jonge suster Suzanie – nog meer peuter as persoon – word ook ‘n raket in die hand gestop.
Vandag is die 19-jarige buksie van 1.55 m se greep steeds aan ‘n raket gegespe…en om haar skouers hang ‘n Protea-baadjie.
Broer Schalk het in matriek sy raket neergelê, maar Suzanie het in tennis iets gevind wat ‘n onlosmaakbare deel van haar lewe geword het.
Verlede jaar het sy haar senior Protea-klere verwerf nadat sy Suid-Afrika ook in junior-ouderdomsgroepe verteenwoordig het. Suzanie is ‘n tweedejaar afrigtingwetenskap-student aan die NWU se Potchefstroomkampus, waar sy ook daagliks haar tennisvernuf slyp. Om op die baan te wees, om te sweet vir haar doelwitte, is haar kos.
“Ek is ‘n aggressiewe speler, ek hou daarvan om die bal te slaan, om my punte vinnig te kry. Hoe beter my teenstander, hoe beter word ek. Ek is bereid om alles in my vermoë te doen om my drome te bereik. Dit is wel moeilik in Suid-Afrika, want ons het nie genoeg toernooie van die hoogste gehalte nie. My doelwit is om in ander lande te gaan speel.”
Met haar Yonex-raket op ‘n hardebaan gereed om ‘n voorhandhou af te lewer is sy op haar gevaarlikste. Haar lengte beteken egter dat sy harder as verskeie ander spelers aan haar dien moet werk om hoogte te kry. Soos die legendariese Amanda Coetzer – wat 1.58 m gestaan het – gebruik sy elke millimeter van haar postuur tot haar voordeel.
“Ek is bietjie kort, maar daar is baie positiewes. Ek het ‘n lae swaartepunt, ek het meer balans en ek is stewiger op die grond. Dit pas my aggressiewe styl.”
Een van haar helde is die voormalige eersgekeurde vrouspeler in die wêreld, Simona Halep, van Roemenië en Roger Federer sal altyd haar gunsteling bly. Wanneer dit by tennis kom, het sy baie in gemeen met daardie twee wêreldsterre, hoewel dit te betwyfel is of hulle haar tydverdrywe deel:
“Ek hou van naaldwerk soos hekel en brei. Dit kom van my ouma af,” lag sy.
Net die vorige dag het ‘n besering haar genoop om ‘n MRI-skandering te ondergaan, en nou wag sy om te hoor wat die hersteltydperk gaan wees.
“Verloop als goed is daar twee Futuretoernooie wat wag en dan is daar Afrikaspele in April waar sy gaan poog om vir die Olimpiese Spele te kwalifiseer. Met haar hoofafrigter, Riaan Venter, en haar kondisioneringsafrigter, Colin Powell, aan haar sy is, is sy slaggereed vir enige uitdaging wat op haar pad mag kom. Aan ondersteuning het sy nie ‘n tekort nie.
“Ek wil vir die NWU dankie sê vir al die ondersteuning. Die universiteit wil my sien nuwe hoogtes bereik, en dit is baie spesiaal.”



