Local newsNews

Juan onthou vir sy glimlag, liefde en onbaatsugtige hart

“Hy was altyd vriendelik en het altyd ’n glimlag op sy gesig gehad. Hy was altyd hierdie sonstraal-kind,” vertel Suzette.

Vir Suzette van den Heever was haar seun, Juan, ’n sonstraal, ’n jong man wat volgens haar altyd met ’n glimlag op sy gesig deur die lewe gegaan het en ander mense se behoeftes dikwels voor dié van homself gestel het.

Juan van den Heever, gebore op 27 Januarie 2000, is op 23 September oorlede. Hy was slegs 26 jaar oud.

Vir sy ma is daar nou ’n stilte waar eens haar seun se stem, lag en vriendelike geaardheid was.

“Hy was altyd vriendelik en het altyd ’n glimlag op sy gesig gehad. Hy was altyd hierdie sonstraal-kind,” vertel Suzette.

Volgens haar was dit eenvoudig die mens wat Juan was, iemand wat wou help, iemand wat omgegee het en iemand wat eers seker gemaak het dat ander mense versorg en gehelp is voordat hy aan homself gedink het.

“Hy het altyd ander mense voor homself geplaas. Hy het gesorg dat ander mense versorg of gehelp is voordat hy aan homself gedink het.”

Suzette het hom egter gereeld daaraan herinner om ook na homself om te sien.

“Ek was maar die een wat altyd aan hom gedink het. Ek het baie vir hom gesê: ‘Dink ’n bietjie aan jouself. Worry oor jouself.’”

Maar dit was juis Juan se onselfsugtigheid wat hom vir soveel mense besonders gemaak het.

“Hy was vir baie mense ’n ligpunt in hulle lewe,” sê Suzette.

En dit is iets wat die talle boodskappe van mense wat hom geken het, bevestig.

Stephanie Erasmus beskryf Juan as ’n “opregte, onbaatsugtige en liefdevolle vriend” wie se lewe ’n diep indruk op almal rondom hom gemaak het.

“Jy het altyd ander eerste gestel en jou tyd en hart vrylik gegee sonder om ooit iets terug te verwag,” lui haar huldeblyk.

Volgens Erasmus was Juan iemand op wie ’n mens altyd kon staatmaak. “’n Rots van getrouheid, eerlikheid en ondersteuning in enige lewensfase”.

“Jou warmte en liefde het die lewe vir ons almal helderder gemaak.”

Vir dié wat hom geken het, laat sy afsterwe daarom nie bloot die verlies van ’n vriend, kollega of familielid nie, maar ’n leemte wat moeilik gevul sal word.

Selfs by Plumber’s Depot, waar Juan gewerk het, word hy onthou as iemand wat bereid was om die ekstra myl te loop.

In ’n huldeblyk aan hul voormalige kollega beskryf die span hom as ’n hardwerkende en toegewyde mens wat altyd bereid was om ’n helpende hand uit te reik.

“His willingness to go the extra mile and help wherever he was needed made him a valued member of our team,” het die span gesê.

Hulle sê hulle is dankbaar vir die tyd wat Juan saam met hulle deurgebring het en vir die herinneringe wat hy agterlaat.

Maar agter die kollega, vriend en helper was daar ook ’n jong man met sy eie drome.

Juan was ’n oud-leerder van Hoër Volkskool Potchefstroom. Volgens Suzette was sy droom eenvoudig maar groot, hy wou iets van sy lewe maak.

Hy het ook ’n besondere droom vir sy ouers gehad.

“Hy wou baie graag die eer hê om eendag na sy ouers in hulle oudag te kyk,” vertel Suzette.

’n Droom wat vir sy ma nou een van die baie dinge is wat sy saam met hom sal moet laat gaan.

Musiek was nog een van Juan se groot liefdes.

“Hy kon sing. Hy het baie mooi gesing,” sê Suzette.

Hy het al by verskeie geleenthede opgetree en volgens haar was hy ook betrokke by klank tydens toneel op skool. Hy het selfs by die KKNK uitgehelp.

En dan was daar sy motorfiets.

Vir Juan was motorfietsry meer as net ’n stokperdjie. Dit was sy ontvlugting, ’n plek waar hy kon wegkom en net homself kon wees. Dit was ook wanner Juan saam met sy pa, ohan van den Heever tyd saam spandeer het. Dit was iets waarvoor hulle ‘n liefde gedeel het.

“Hy was lief vir motorfietsry. Dit was sy ontvlugting en sy stokperdjie.”

Vir ’n ma wat haar kind verloor het, is daar egter geen ontvlugting van die werklikheid wat nou voor haar lê nie.

Suzette sê sy word oorweldig deur die hoeveelheid mense wat ná Juan se dood hul simpatie betuig, mense wat sy nie eens almal ken nie.

“Daar is soveel mense wat hom geken het en wie hy gehelp het, wat met ons simpatiseer, en ek het geen idee wie hulle is nie.”

Vir haar is dit terselfdertyd hartverskeurend én betekenisvol.

“Dit wys jou hoe hy mense se lewens geraak het.”

Juan het volgens sy ma ’n verskriklik groot vriendekring gehad en nou, in sy afwesigheid, word dit duidelik hoeveel mense deel was van die lewe wat hy geleef het.

Sy ouma se huldeblyk beskryf hom as ’n liefdevolle kind, broer, kleinkind, familielid en vriend.

“Jy was ’n rots van getrouheid, eerlikheid en ondersteuning te alle tye.”

Sy skryf dat Juan se warmte, liefde en respek vir sy medemens almal se lewens helderder gemaak het.

“Al laat jou afsterwe ’n groot leemte, sal jy altyd onthou word vir die pragtige mens wie jy was, vol liefde vir ander.”

En miskien is dit juis hoe Juan se familie en vriende hom sal onthou, nie net vir die manier waarop hy gesterf het nie, maar vir die manier waarop hy geleef het.

Vir sy ma sal hy altyd haar sonstraal-kind bly.

’n Seun met ’n glimlag.

’n Seun wat wou help.

’n Seun wat ander eerste gestel het.

’n Seun wat gedroom het om eendag vir sy ouers te sorg.

En ’n seun wie se stem nou stil is, maar wie se lag steeds in die herinneringe van dié wat hom liefgehad het, voortleef.

“Rus in vrede, liewe Juan.”

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

Tania Coetzee

I am a passionate journalist and photographer. I have been a photographer for 15 years and a journalist for 4 years. I recently started working for Potchefstroom Herald. I love writing people's stories and showcasing their inner beauty through photography.

Related Articles

Back to top button