SportSport

‘n Spesiale Pro Meritis-pluimpie vir Mervyn Taylor

Mervyn Taylor is tydens die onlangse CHHP NWU Lentesportberaad met die gesogte Pro Meritis-toekenning vereer.

Ná 26 jaar by die NWU Rugbyinstituut is daar min dinge wat die bestuurder, Mervyn Taylor, nog nie beleef het nie.

Sukses loop saam met Taylor wat twee Varsitybeker-oorwinnings in 2016 en 2023 al saam met die NWU gevier het.

Hierdie maand is daar nog ‘n suksesvolle hoofstuk in sy CV bygewerk toe hy ‘n persoonlike eerbewys ontvang het. Taylor is tydens die onlangse CHHP NWU Lentesportberaad met die gesogte Pro Meritis-toekenning vereer.

Die Pro Meritis-toekenning is ’n besondere eerbewys wat gereserveer word vir individue wie se jarelange diens, leierskap, toewyding en bydrae ’n betekenisvolle en blywende impak op sport gemaak het.

“Dit is ’n massiewe eer en nogal onverwags. Om hierdie toekenning van mense in die sportbedryf te ontvang, beteken die wêreld vir my,” sê Taylor, wat ook die president van die Luiperds Rugbyunie is.

Tot vandag toe getuig die Varsitybeker-oorwinnings, asook sewe eindstryd-verskynings in hierdie kompetisie, van die NWU se sterk rekord. Volgens Taylor was albei oorwinnings om verskeie redes besonders.

“Die eerste oorwinning in 2016 was iets waarna die universiteit lank uitgesien het. Dit het gewys dat ons in staat is om die groot een te wen. In 2023 was dit ook ongelooflik om dit tuis te wen. Dit het gewys dat ons oorwinning nie net ’n eenmalige gelukskoot was nie.”

Mervyn Taylor, die bestuurder van die NWU Rugbyinstituut, is onlangs met die NWU CHHP se Pro Meritis-toekenning vereer. Foto: Wouter Pienaar

Taylor het in 2000 as ’n spanbestuurder by die NWU Rugbyinstituut begin. Hy is in 2010 in die rol van bestuurder aangestel. Ná 16 jaar as bestuurder is sy passie steeds groot om die rugbystrukture na groter hoogtes te dryf.

“Ek geniet dit werklik om in hierdie omgewing te werk. Die NWU en Potchefstroom is my tuiste. Ek was nog nooit iemand wat groot posisies nagejaag het nie. Ek voel daar is baie geleenthede vir groei by die NWU en ek is dankbaar dat ek ’n ongelooflike span by die NWU Rugbyinstituut kan lei.”

Een van die kenmerke wat die NWU van ander instellings onderskei, is sy fokus op spelerontwikkeling en die skep van nie net uitstekende rugbyspelers nie, maar ook gehalte mense wat ‘n verskil in die samelewing maak.

“Ons het talle talentvolle rugbyspelers opgelewer wat professionele rugby by topspanne, plaaslik en oorsee, speel. Een van ons doelwitte is om studente op en van die rugbyveld af te ontwikkel en hulle met ’n graad toe te rus.”

Een van Taylor se ander doelwitte is om meer betrokke te wees by rugby op al drie NWU-kampusse.

“Daar is baie geleenthede en ook uitdagings, maar die doel is om rugby op al ons kampusse te versterk. Die bevordering en ontwikkeling van vrouerugby is een van die sleutelgeleenthede,” sê hy.

As daar een aspek is wat die NWU so ’n aantreklike plek maak om rugby te speel, is dit die samehorigheidsgevoel wat by spelers gevestig word. Vreemdelinge van regoor Suid-Afrika word hier broers.

“By die NWU kry jy geleenthede met gehalte-afrigting, gekombineer met akademiese uitnemendheid. Spelers kan hier naam maak en hul drome verwesenlik.”

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

wouterpienaar01

I am the editor of the Potchefstroom Herald since January 2026. I have a keen interest for sport and local community news. I have more than a decade of experience covering various beats. Journalism is a lifestyle.

Related Articles

Back to top button