Potch vat podium by NW Driekamp kampioenskappe
Pieter Henning (72) was die oudste deelnemer en het eersteplek behaal in sy kategorie.
Die Noordwes Driekampvereniging het 10 Februarie die Driekamp Provinsiale kampioenskap in Orkney aangebied.
Potchefstroom het weer eens geseëvier met heelwat podium-posisies. Jacques Hooghiemstra (12-13 jaar) van Laerskool Mooirivier het ‘n eerste plek in die supersprint-kategorie gewen.

Steve Viviers was in sy ouderdomsgroep en in die sprint-kategorie algeheel tweede.
Pierre Cronje het ‘n eerste plek in die mans 40-44 jaar in die sprint-kategorie gewen, met Hanu Nel in die eerste plek vir mans 45-49. Hans Gouws was eerste in die 65-69 ouderdomsgroep vir die sprint-kategorie en die oudste deelnemer, Pieter Henning, eerste in die 70-74 ouderdomsgroep.

Antoinette Hooghiemstra was die kategoriewenner, asook ouderdomsgroep wenner in die standaard-kategorie met Gerhardus Hooghiemstra in die tweede plek in die mans 40-44 ouderdomsgroep.
Deelnemers het in die Vaalrivier geswem, op die Stokkiesdraai-pad gehardloop en fiets gery met die jongste deelnemer slegs nege jaar oud en die oudste deelnemer 72 jaar oud.

Verskillende ouderdomsgroepe neem in verskillende afstande deel tydens die driekamp kompetisies. Kinders van 11 jaar en jonger het ‘n 100 meter-swem, drie kilometer fietsry en 600 meter hardloop afgelê. Die 12 tot 15 jaar ouderdomsgroep neem deel in die Supersprint-kategorie en doen ‘n 400 meter swem, 10 kilometer fietsry en 2.5 kilometer hardloop. 16 jaar en ouer neem deel in die Sprint-kategorie wat ‘n 750 meter-swem, 20 kilometer-fietsry en 5 kilometer hardloop is. Vanaf 20 jaar en ouer kan atlete ‘n standaard Olimpiese afstand doen wat 1 500 meter swem, 40 kilometer fietsry en 10 kilometer hardloop is.




