Volkies woeker by Lichtenburg nagwedren
Volkies se fietsryers behaal 'n fantastiese eerste plek in die Lichtenburg nagwedren.
Tydens die vierjaarlikse Lichtenburg Toyota nagwedren het Volkies se bergfietsspan stof in die oë van die ander deelnemers geskop. ‘n Goed geoliede Volkie-span het R1 000 in die sak gesit en spog met wenmedaljes.

Sewe en sestig rondtes van sowat 4 km is deur die nag in ‘n tyd van 10 ure afgelê. Die goedgeorganiseerde byeenkoms het alle verwagtinge oortref. Dit was vir Volkies Fietsry só ‘n groot voorreg om aan die Hoërskool skolespanne te kon deeleem.
Volkies se fietsryers het Vrydagaand, 23 Februarie vanaf 19:00 tot 05:00 Saterdagoggend, 24 Februarie hul alles gegee en nie net met die prysgeld weggestap nie, maar ook die meeste rondtes voltooi. Die span wat deelgeneem het is: Zandré Stemmet, Reon Grobler, James Henneley, Jason Gouws, Lian Louw en Janco Stemmet. Volkies Fietsry bedank veral Brandon van der Berg en Frans van der Berg vir die afrigting van die Volkies Fietsryspan.

“Julle toewyding, leierskap en mentorskap spoor die fietsryers tot hoër hoogtes aan. Brandon behaal ook ‘n welverdiende 2de plek in die solo mansafdeling. In 10 ure het hy 54 rondtes gery. “Volkies bedank ook hul borge wat dit vir die span moontlik gemaak het om te kon deelneem.



