Kleinplaas parkrun vier 2 jaar, 80ste wedloop
"Dit is ons tweede jaar wat ons vier vandag," noem Jimmy Verster.
Kleinplaas parkrun het vanoggend, 23 Maart hul tweede bestaansjaar gevier deur hul 80ste wedloop aan te bied.
Oud en jonk het saam die wedloop aangepak en mekaar gemotiveer om tot by die eindstreep vas te byt.

Die baan kronkel deur die veld agter Kleinplaas, en vanoggend se wedloop was verfrissend vir deelnemers aangesien die veld tans ‘n rok van Kosmosblomme dra.

Marina Ackerman, Jimmy Verster en Liam Erlank het seker gemaak deelnemers het water, volg die baan en ontvang hul hardloop-tyd na afloop van die wedloop.

Enigiemand is welkom om deel te word van die parkrun-gemeenskap. Jy kan hardloop, stap, of teen ‘n rustige pas die oggend geniet. Daar is geen koste verbonde nie, jy moet net registreer en opdaag!

Klik hier om meer uit te vind en te registreer.

Die wedloop begin 8:00 elke Saterdag; vroeg genoeg dat die son nog nie warm bak nie, maar laat genoeg dat jy jou wekker ‘n paar keer kan stilmaak voor jy uit die bed klim.




