Local news

Hawelose man vra vir werk, nuwe begin

"Ek soek net werk en ‘n dak oor my kop, ek sal my kant bring,” sê Willem Visser, 'n hawelose man opsoek na werk.

Willem Petrus Visser (55) het sowat ses maande gelede met die hoop op ‘n nuwe begin in Potchefstroom aangekom, maar sedertdien net die een terugslag na die ander beleef. “Ek het saam met ‘n trokdrywer Potch toe gery; hy het my by die boom by Mooimed Hospitaal afgelaai en gesê dat hy met sy werkgewer gaan gesels om te hoor of daar vir my werk is.”

Willem het voor 1987 vir die Departement van Paaie gewerk en so sy Kode 10 (nou EC1) lisensie bekom en was dus vertroud met vragmotors. “Na ‘n week het ek nog niks van hom gehoor nie, en die bietjie geld wat ek gehad het, was op. Ek het toe vir omtrent vier maande by ‘n hawelose sentrum gebly en gewerk. Ek en ‘n seun het met harke en ‘n grasvreter gestap na mense se huise toe en hul tuine versorg. In die middae het ek die kombuis opgeruim en dan het ons begin kosmaak.” Willem vertel dat al hoe meer werk op hom afgepak is, en dat hy naderhand besluit het om aan te beweeg. “Ek is nou al drie maande op straat.”

Willem vertel dat hy eers onder ‘n boom naby Laerskool Mooirivier gebly het en baie mense het hom so gehelp. Daar is egter sekuriteitskameras en een van die sekuriteitswerkers het hom genader en genoem dat dit ‘n sekuriteitsprobleem is aangesien baie in die beheerkamer werk en nie bewus is van sy situasie nie. Hy het vir Willem ‘n tent gegee en hom onder ‘n boom op die hoek van Chief Albert Luthuli en Presidentstraat afgelaai.

Willem is steeds daar, maar nou sonder sy tent. Díe is gesteel. Dit het Willem gelos met ‘n rugsak, ‘n verslete duvet en onderlaken, twee kussings, en ‘n toiletsakkie met benodighede wat iemand onlangs vir hom gegee het. Willem vertel verder dat hy homself onder die Wasgoedspruitbrug was en van kanaalwater gebruik maak om skoon te kom. Willem hou sy hoek by Presidentstraat skoon deur ‘n tak te gebruik om elke oggend die los blare en vuilgoed op te ruim. Hy het selfs die voëls bevriend en hul fladder vrolik rond om broodkrummels wat hy vir hulle gestrooi het.

Hy doen tans tuin-onderhoudswerk vir iemand en kry kos en sakgeld in ruil daarvoor. Hierdie geleentheid doen hy egter net twee of drie keer per week en Willem moes sy gesondheid opsy sit om te oorleef. “Ek het in asblikke begin soek vir kos, maar dit maak my siek. Ek probeer skoon kos soek, maar dis moeilik as dit reeds in die asblik is.” Willem voeg by dat hy dit nie regkry om te bedel vir kos nie. “Dis ‘n snaakse skaamte wat mens het om nie te wil vra vir kos nie.” Willem noem dat hy kan voel hoe hy swakker word en dat dit hom benoud maak. Te midde van sy situasie is Willem steeds opgeruimd en maak grappies. “In die weermag het ons dit Jippo-guts genoem. Dit gebeur as die kos nie 100 persent skoon is nie,” lag Willem. Hy was ‘n mediese beampte in die weermag vanaf 1987 tot 1989.

Al familie wat Willem het is sy dogter, broer en ma. Hy is egter vervreem van sy dogter en broer, en het meer as ‘n jaar laas van sy ma gehoor. “Ek weet nie eers of sy nog met ons is nie,” merk Willem op en vir die eerste keer kan die hartseer vlak in sy oë opgemerk word. “Dit is die eerste keer wat ek haweloos is, ek is dit nie gewoond nie. Ek wil nie in hierdie situasie bly nie; ek kan voel ek gaan agteruit. Ek soek net werk en ‘n dak oor my kop, ek sal my kant bring,” sê Willem eerlik.

Willem hou sy skoen met ‘n belt vas.

Sy grootste droom is om geld te kan verdien om te spaar, en weer ‘n vastrapplek in die samelewing te kry. “Ek is dankbaar vir die son wat elke dag weer opkom, dit gee my innerlike hoop. Ek sê altyd as God nog nie sy hand toegemaak het nie, is daar nog om voor te hoop.” Buiten werk, het Willem ander dringende behoeftes. Komberse, klere, skoene, onderklere en kouse sal hom baie help. Hy hou tans een van sy skoene met ‘n belt aanmekaar. Hy dra ‘n mansgrootte nommer agt skoen, ‘n ‘groot’ T-hemp asook ‘n ‘groot’ baadjie. Hy dra ‘n nommer 34 broek; kouse en onderklere kan by hierdie groottes gepas word.

Reuben van Breda, ‘n jongman in Potchefstroom, het homself oor Willem ontferm aangesien Willem en sy pa ewe oud is. Hy het sy kontakbesonderhede beskikbaar gestel as mense meer omtrent Willem wil weet. Reuben kan by reubenvb4@gmail.com of 074 601 0522 gekontak word. Indien jy vir Willem iets wil afgee en hom nie op sy hoek vind nie, kan dit by die petroljoggie by die TotalEnergies kampus oorkant die pad gegee word.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button