Local news

Einde van ‘n era: Bourbons word sendingskool

"Ek is ook hartseer, dis werklik die einde van 'n era." So sê Albert Bothma, eienaar van Bourbons nadat hy Bourbons verkoop het.

Albert Bothma, die eienaar van Bourbons, Snowflake en vele meer besighede in Potchefstroom deel die agter-die-skerms oor sy besluit om Bourbons, wat reeds 35 jaar in sy besit is, te verkoop.

“Bourbons het 2 Augustus 1989 oopgemaak,” vertel Albert met nostalgie wat aan sy stem trek. “My idee met Bourbons was ‘n boy-meets-girl gevoel, wat vroeër jare wel die geval was. Baie mense wat in Bourbons ontmoet het, se kinders het ook in Bourbons gekuier.” Albert voeg by dat ontsaglik baie huwelike voortgevloei het uit ontmoetings in Bourbons. “Dis vir baie mense ‘n sensitiewe en sentimentele ding.”

Albert is hartseer dat weens verskeie negatiewe elemente dit nie meer die geval is nie. “Ek het verskeie redes wat die verkoop van die onderste vloer aangevoer het, waarvan veiligheid seker die grootste rede is. Die Bult het geweldig onveilig geword en ek wil my nie elke aand oor die veiligheid van my klante bekommer nie. Dis nie ‘n lekker gevoel om te weet jou klante is onveilig nie. Baie studente het natuurlik weens die veiligheidsprobleem hul eie wapens begin saamdra, maar dit het ook die potensiaal om katastrofiese gevolge te hê.” Die Outomatiese Tellermasjene (ATMs) wat deel was van die ou ABSA-gebou is op Albert se aanvraag verwyder. “Dis ‘n veiligheidsrisiko,” verduidelik Albert. “Dis iets wat ‘n kriminele element trek.”

Albert verduidelik verder dat hy uit voeling geraak het met hedendaagse studente se behoeftes. “Ek is nie in voeling met hul musieksmaak en andere nie, en aktiwiteite wat deesdae in Bourbons plaasvind is nie wat ek aanvanklik vir die besigheid beplan het nie. Bourbons het ongelooflik uitgebrei en is deesdae baie divers, maar die veiligheid is werklik ‘n groot probleem.”

Albert noem ook dat die koste om ‘n voltydse student te wees astronomies is, en dat geld min geraak het. “Die mense het nie geld nie, en dis te verstane. Baie besighede het reeds verkoop op die Bult, en baie ander is in die proses om te verkoop weens die veiligheidsprobleem en die sukkelende ekonomie.”

Net na die Covid-19 pandemie sy kloue begin terugtrek het, het Albert die hele gebou by ABSA gekoop, en onmiddelik die boonste vloer aan Unite180 verkoop. “Daar is ‘n groot behoefte aan ‘n geestelike sektor op die Bult,” sê Albert met erns. Die grondvloer van die ou ABSA-gebou, buiten Bourbons, het natuurlik steeds leeg gestaan. “Fire and Fragrance het my genader en gevra of hulle die gebou by my kan huur, maar ek het aan hulle genoem dat daar reeds ander belangstellendes is. Hulle het na my toe teruggekom en gevra of hulle die deel kan koop, en ek het die aanbieding aanvaar. Die gedeelte waar ABSA was asook Bourbons is verkoop.”

Albert vertel dat toe die nuus van die transaksie in Die Beeld verskyn het, dit ‘n vlaag van ou klante sy kant toe gewaai het. “Ou klante vanuit Amerika, Australië en nog meer het my gekontak. Dis natuurlik te verstane aangesien miljoene mense al in Bourbons gekuier het. Wanneer hulle terugdink aan hul studentejare, dink hul aan Bourbons ook. Van mens se beste herinneringe is vanuit jou studentejare. Almal verstaan egter my goeie redes en besef dat daar ‘n groot veiliheidsprobleem is.”

Daar is tans ‘n petisie wat die rondte doen om misnoeë oor Bourbons se verkoop uit te spreek, en Albert is bewus daarvan. “Dit is nie iets wat sukses gaan bereik nie, dis meer iets wat mense se hartseer demonstreer. Ek is ook hartseer, dis werklik die einde van ‘n era,” noem Albert nadenked.

“Ek is dankbaar vir die teenwoordigheid van Bult CID wat reeds ‘n groot duik in die onveiligheid op die bult gemaak het. Ek glo dat Unite180 en Fire and Fragrance se teenwoordigheid op die Bult saam Bult CID ‘n positiewe swaai gaan meebring. Dit sal vir die universiteit verskriklik waardevol wees en sal vir die res van die dorp ook tot voordeel wees. Ek glo dit kan ‘n geestelike herlewing deur die dorp in die volgende paar jaar voortbring. Ek voel dat ek ‘n positiewe bydrae lewer vir die gemeenskap deur my te onttrek op hierdie manier. Ek wil ‘n positiewe legacy agterlaat,” sluit Albert af

 

Related Articles

 
Back to top button