Local news

Kraan lek steeds by dam, teleurstelling duur voort

Al bykans 'n maand het verloop vandat die Munisipaliteit voorgeneem het om die lekkende kraan by Potch Dam te herstel.

Die Herald het op 18 April vanjaar berig oor die skokkende toestand waarin die badkamers, sowel as die braai-area naby die badkamers, by Potchefstroom Dam is.

Die berig het gefokus op ‘n waterlek wat Mariette Hitge, ‘n jarelange inwoner in Potchefstroom, aan die Herald uitgewys het.

Die munisipaliteit het in die vorige berig genoem dat hulle bewus is van die probleem en dat die Departement van Tegniese dienste gevra gaan word om aandag aan die probleem te gee.

Die Herald het Dinsdag, 14 Mei weer die badkamers by Potch Dam besoek waar Mariette aangedui het dat dit blyk asof die waterlektoestand vererger het. Buiten die waterlek is daar spinnerakke oral. Tot in so ‘n mate dat daar deur die spinnerakke geloop moet word om in die badkamer te kom.

Die wasbak sien swakker daar uit as bykans ‘n maand gelede.

Daar is ook geen opknappingswerk aan die braaiarea gedoen nie, en Mariette was teleurgesteld om op te merk dat die gras steeds bykans tot by haar kop strek. “Die gras lyk nou minder, maar dis net omdat dit droog geword het en begin plat lê. Dis duidelik dat hier geen opknappingswerk gedoen is nie.”

Mariette staan in die gras wat steeds nie gesny is nie.

“Dis vir my ‘n groot teleurstelling om te sien hoe die munisipaliteit nie hierdie bate onderhou nie. Die belastingbetalers kan nie baat vind by die dam nie en word van ‘n positiewe rekreasie ontneem.” In die vorige berig het Mariette ‘n eksperiment uitgevoer en ‘n paar somme gemaak en bevind dat ongeveer 1 920 liter skoon water per dag verlore gaan. Sy het ook genoem dat dit hartseer is om te sien hoe liters en liters skoon water net wegvloei terwyl daar gebiede in die Potchefstroom-omgewing is wat nie water het nie. Mariette voeg by dat sy egter nie verbaas is nie. “Om eerlik te wees, ek het nie gedink dat die munisipaliteit die kraan sal kom regmaak en opknappingswerk sal kom doen nie.”

* Die munisipaliteit is gevra vir ‘n tydlyn van opgraderings- en opknappingswerk, maar het steeds nie gereageer nie.

Related Articles

 
Back to top button