Comrades legende Bruce Fordyce besoek Kleinplaas parkrun
Kleinplaas parkrun het praatjies deur Bruce Fordyce geniet.

Bruce Noel Stevenson Fordyce, nege-keer wenner van die SuidAfrikaanse Comrades Marathon, het Vrydag, 17 Mei en Saterdag, 18 Mei die Kleinplaas parkrun besoek.

Fordyce, wat agt van sy nege Comrades eersteplekke in agtereenvolgende jare ontvang het en ook die London-to-Brighton Ultramarathon drie agtereenvolgende jare gewen het, het met parkrunners kom gesels oor die Comrades marathon wat volgende maand plaasvind.

Fordyce is natuurlik ‘n kenner soos kan kom op die gebied, en het Vrydagmiddag ‘n praatjie aangebied wat deelname aan die Comrades bespreek. Saterdagoggend voor die gebruiklike parkrun het Fordyce ‘n praatjie aan die 176 parkrundeelnemers gelewer en self aan die parkrun deelgeneem.

Fordyce is ‘n parkrun kampioen en die hoof uitvoerende beampte van Parkrun Suid-Afrika. Hy het al aan 531 parkruns deelgeneem en spog met die gesogte blou parkrun T-hemp wat jy op jou 500ste parkrun ontvang. Potchefstroom se parkrun is een van die 297 parkruns wêreldwyd waaraan Fordyce al deelgeneem het.

Jimmy Verster, organiseerder van die Kleinplaas parkrun het genoem dat hul Fordyce voorheen genooi het om ‘n praatjie te lewer, en dat hy aangebied het om dit die keer te kom doen. Fordyce se praatjie kon nie beter beplan gewees het nie, aangesien Comrades deelnemers wat die praatjie bygewoon het, steeds tyd sal hê om Fordyce se raad te implementeer.

Die Suid-Afrikaanse Comrades Marathon is geskeduleer vir 9 Junie vanaf 05:30 tot 17:30. Die roete loop vanjaar vanaf Durban na Pietermaritzburg en beteken ‘n opdraande tog vir deelnemers.