Sport

Willehonne tem Tokkies in naelbyt affêre

Dit het die Willehonne van Klerksdorp amper die volle tyd van die wedstryd geneem om die oorwinning te beklink.

Dit was gistermiddag, 21 Mei, ‘n naelbyter van ‘n wedstryd tussen Saamtrek en Tokkies in Potchefstroom.

Nie een span het bes gegee nie, en dit het die Willehonne van Klerksdorp amper die volle tyd van die wedstryd geneem om die oorwinning te beklink.

Saamtrek was vroeg in die wedstryd voor gewees, met ‘n strafskop wat oor geklits is.  Tokkies het egter aanhou veg en druk op die Klerksdorpers geplaas. Dit het uiteindelik vir hulle gewerk toe hulle na vele fases gaan druk het. Met die telling 7-3 was die wedstryd op ‘n messepunt gebalanseer.

Die Klerksdorpers het goeie verdediging gewys om die druk van die Potchefstromers te absorbeer. Saamtrek kon deur daardie goeie verdediging balbesit omdraai en druk van hulle eie op Tokkies toepas.

Die groot baldraers van Saamtrek het voorlangs die werk gedoen en hulle is na vele aanslae in die doodsnikke met ‘n drie beloon. Saamtrek verdoel die drie en wen 10 -7.

“Dit is altyd lekker om teen Mooirivier te speel. Dit is altyd baie kompeterend. Dit was verseker weer die geval, en ons is baie trots op die seuns dat hul aan die wenkant was in so ‘n klipharde stryd. Nou werk ons weer hard vir die uitspele,” het Marc Campher, rugbyorganiseerder van Saamtrek, gesê.

Volgens Jackie Golden, rugbyorganiseerder van Tokkies, gaan dié twee spanne mekaar nou in die halfeindrondte van die liga weer aanvat.

“Dit was n baie harde stryd soos altyd, dit kon enige kant toe gegaan het. Dit is maar die spring van die bal op die dag. As skool het ons baie beter gevaar as verlede jaar, so ons is besig om iets reg te doen,” het Golden gesê.

Die halfeindstryde van die Luiperds se grootskole liga skop Dinsdag op Olënpark af.

Related Articles

 
Back to top button