Kom vang somergees by die Molen Kórus Kamerkoorfees
Hierdie jaar kan die gehoor uitsien na optredes deur drie kamerkore.
Die somer het uiteindelik aangebreek wat beteken die eikelaan se akkerbome skitter weer in hul heldergroen prag, en vir ons plaaslike kamerkoor, Molen Kórus, wat as die “groen koor” bekend staan, beteken dit weer konserttyd! Die jaarlikse Molen Kórus Kamerkoorfees word reeds vir die vyfde keer aangebied en is ? instelling op Potchefstromers se konsertkalender.
Hierdie jaar kan die gehoor uitsien na optredes deur drie kamerkore. Ons eie plaaslike kamerkoor, Molen Kórus, sal hierdie jaar die verhoog deel met die Rheinberger Kamerkoor van Johannesburg onder leiding van Elana Neethling en die Laudem Dei Kamerkoor van Randburg onder leiding van Laura de Waal wat verlede jaar gestig is.
Die Kamerkoorfees beloof om iets vir elke koorliefhebber te bied met ? veelsydige program. Elkeen van die kore bring hul unieke klank en repertoire na die verhoog wat verseker dat die gehoor kan uitsien na klassieke koormusiek, romantiese koormusiek en ook meer kontemporêre en ligter werke wat sal betower en die litte laat roer. Dit is nie elke dag dat mens die geleentheid kry om soveel kore van uitstaande gehalte op een verhoog te sien kry nie en Molen Kórus nooi elke Potchefstromer uit om hierdie jaar se Kamerkoorfees te kom geniet.
Die konsert vind op Saterdag 09 November om 18:00 by die NG Kerk Potchefstroom-Noord (Dwarsstraat 21) plaas en kaartjies is R100 per persoon en R50 vir kinders (3-12jaar). Kaartjies is aanlyn by Quicket sowel as by die deur beskikbaar.
Kom #blusjoukoorlus en word deel van ons koorfamilie; diegene wat graag by Molen Kórus wil aansluit kan nou reeds ? oudisie bespreek. Oudisies vir nuwe lede vind hierdie jaar op 12 & 13 November te Potchefstroom plaas. Meer inligting is op die koor se Instagram-en Facebook-blaaie beskikbaar (@molenkorus), of stuur ? e-pos na molenkorus@gmail.com.



