NWU rugby lewer jaar na jaar kwaliteit
Die NWU se rugby instituut is gesond en lewer elke jaar gehalte spelers
Die grootste wenners by vanjaar se NWU rugby instituut afsluiting was beslis Joubert Schoeman en Matthew Fortuin. Schoeman het vier toekennings ingepalm naamlik die Dux Speler van die Jaar
(Deurlopend op alle gebiede presteer), Mans Sewesspeler van die Jaar, Bestuurskild
(Mees uitsonderlike prestasie), en die Johan Claassen trofee (Rugbyinstituut speler van die jaar). Terwyl Fortuin die NWU FNB Varsitybeker Speler van die Jaar, Spelers se Speler van die Jaar en die Piet Malan Trofee (Agterspeler van die jaar) ontvang het. Schoeman is by die Suid Afrikaanse studente sewesspan ingesluit en is ook na die Blitzbokke se oefengroep uitgenooi. Boonop het hy vir die SA A-Span uitgedraf.
Fortuin het die Varsitybeker toernooi sy eie gemaak met sy goeie spel gedurende die toernooi. Individuele prestasies is nie die enigstes wat vereer is nie, die span van die jaar, NWU Young Guns het ook ‘n toekenning ontvang nadat hulle die Young Guns toernooi vir ‘n tweede agtereenvolgende jaar gewen het. Selfs diegene wat ondersteuning aan die instituut bied, is vereer. Michael Seleka, eintlik NWU se sokkerspan se hoofafrigter het ‘n toekenning ontvang vir die mees lojale ondersteuner. Lang dienende afrigters soos Kassie Karstens en Sias Janse van Rensburg is geloof vir hulle onderskeidelik 25 en 23 jaar diens aan die instituut. Prof. Daryl Balia, die adjunk-visekanselier van die NWU op die Potchefstroomkampus, asook Dr. Corrie Rheeder, direkteur van studentelewe op die Potchefstroomkampus, Prof. Sibusiso Chalufu, Uitvoerende Direkteur: Studentelewe en Mervyn Taylor, hoof van Rugby het almal roerende toesprake gelewer oor die welstand van die NWU se rugby instituut en die verskil wat die instituut maak.






