Onvoltooide kliniek ‘n teer punt in Ikageng
Die Steve Tshwete kliniek is vyf maande gelede oopgemaak
Die gemeenskap van Ikageng soek nou antwoorde oor wanneer die Steve Tshwete kliniek klaargemaak sal word.
Die Steve Tshwete kliniek is vyf maande gelede oopgemaak en die gemeenskap van Ikageng ervaar dusver net probleme. Volgens inwoners moes die multi-miljoen rand projek reeds voltooi gewees het voor dit oorhandig is.
Tshepo Chempe, ‘n leier in die gemeenskap, sê die nuut geboude kliniek se dak lek reeds en wanneer dit reën moet inwoners wat die kliniek besoek onder sambrele sit.
‘n Brief wat deur verskeie partye saamgestel is, is op 14 Oktober aan die Departement van Gesondheid, die Steve Tshwete kliniek-projek, die burgemeester en verskeie wyksraadslede gerig. Indien die gemeenskap nie terugvoer voor 24 Oktober ontvang nie, sal die gemeenskap ‘n memorandum van griewe en eise aan die departementshoof van die Dr KK-distrik oorhandig.
“Die brief soek duidelikheid oor hoekom ons as gemeenskap steeds in die duister gehou word oor die wanadministrasie wat met ‘n blote oog rondom die onvoltooide projek gesien kan word. Die brief vra ook onmiddellike ingryping deur die departement deur ‘n platform met die departementshoof van die Dr KK-distrik te skep, aangesien die bogenoemde kommer van kardinale belang is vir die benadeelde gemeenskappe van Ikageng-uitbreidings,” het Chempe verduidelik.
“As gemeenskap het ons genoeg gehad. Ons eis hiermee duidelikheid aangesien die feesseisoen om die draai is en nie met so ’n klap in ’n gesig gevier kan word nie,” het Chempe ontsteld gesê.
Hy gaan voort om te sê die departementshoof van die Dr KK-distrik moet homself op die 25ste beskikbaar stel vir die oorhandiging van die memorandum.
Teen tyde van die publikasie is geen terugvoer van enige van die departemente ontvang nie.



