Twee broers vermoor glo plaasbestuurder
Ian se ouers wens dat hierdie proses die gemeenskap inspireer om nog sterker saam te staan teen onreg.
Ian Boshoff (32), ‘n plaasbestuurder op Snymanshof Lodge in die Buffelshoekomgewing tussen Potchefstroom en Parys, is op 25 Oktober tydens ‘n rooftog doodgeskiet.
Drie verdagtes is 7 November in die Ikageng-nedersetting in verband met die moord in hegtenis geneem. Drie vuurwapens, waaronder die twee wat tydens die aanval gesteel is, en nog een wat vermoedelik tydens die uitvoer van die misdade gebruik is, is in die verdagtes se besit gevind.
“Die verdagtes het die slagoffer se voertuig, twee vuurwapens, gereedskap en huishoudelike goedere gevat. Die verdagtes het vroeër ook by ‘n ander huis in die area ingebreek,” het polisiewoordvoerder Brigadier Sabata Mokgwabone gesê.
Die beskuldigdes, Phafelo Israel Mboniswa (42) en William Johnson Mboniswa (33) – twee broers – en hulle neef, Steve Moletsane (42) het op 11 November in die landdroshof in Potchefstroom verskyn op aanklagte van huisbraak, moord, diefstal van ‘n motorvoertuig, twee aanklagte van die besit van vermoedelik gesteelde goedere en die onwettige besit van vuurwapens en ammunisie.
“Die saak teen Steve Moletsane is in die hof weens ‘n gebrek aan bewyse, teruggetrek,” het Sive Gunya, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag gesê.
Phafelo het tydens die hofverrigting sy hand opgesteek en skuld beken.
“Ek het dit gedoen,” het hy in die hof gesê.
Die verdagtes sal na verwagting op 25 November weer voorkom vir ‘n moontlike borgtogaansoek.
Ian, oorspronklik van Bothaville, is op 9 November tydens ’n troosdiens gegroet.
“In hierdie donker tyd na die tragiese verlies van ons dierbare Ian, het ons eerstehands ervaar hoe kragtig medemenslikheid en ondersteuning werklik is. Dit is moeilik om die woorde te vind om ons dankbaarheid uit te druk vir elkeen van julle wat ‘n boodskap gestuur het, ‘n oproep gemaak het, of ons besoek het. Julle liefde en omgee het ons deur die moeilikste dae gedra, en elke gebaar het ons herinner dat ons nie alleen is nie,” het Ian se ma, Sonja, en pa, Bossie, op sosiale media gesê.
“Ian se lewe is van ons geneem, en die hartseer en gemis is groot. Maar ons vind troos in die wete dat daar reeds drie mense in hegtenis geneem is, en ons glo dat geregtigheid vir Ian sal geskied.”
Ian se ouers wens dat hierdie proses die gemeenskap inspireer om nog sterker saam te staan teen onreg.
“Mag ons met die beste deel van onsself voortgaan, net soos Ian dit sou wou hê. Ons sal altyd onthou hoe julle saam met ons rou, en hoe julle Ian se lewe eer,” sluit die plasing af.