Local news

Geen brandblussers toe kar by aftreeoord vlam vat

Inwoners is nie net ongelukkig oor die brandblussers nie.

Inwoners van die Harmony & Immergroen aftreeoord het sowat drie weke gelede groot geskrik toe een van die inwoners se motor 4 uur in die oggend vlam gevat het.

Alhoewel daar onsekerheid was oor of dit brandstigting of net foutiewe bedrading was, is inwoners se grootste bekommernis die feit dat daar al vir ses jaar geen werkende brandblussers op die perseel is nie.

Alex Gous, ‘n inwoner by Harmony & Immergroen, sê die aftreeoord, wat ‘n munisipale instansie is, word al vir jare glad nie meer onderhou nie.

“Die brandblussers werk al vir jare nie meer nie. Meeste van hulle is gesteel of vas aan die kaste geroes. Van hulle se sleutels is weg en kan mens hulle nie eers uit die kaste kry nie. Ons het ‘n tyd terug ‘n geval gehad van iemand wat ‘n pot op die stoof vergeet het. Ons kon dit ook nie blus nie.”

Inwoners is nie net ongelukkig oor die brandblussers nie, maar ook omdat baie van die woonstelle se gebreekte stowe buite staan en geysers al vir meer as ‘n jaar nie reggemaak word nie.

Die perseel word ook nie onderhou nie en inwoners moet glo hulle bietjie pensioen bymekaarsit om iemand te kry om die tuin te onderhou.

‘n Inwoner wat anoniem wil bly, sê daar is ‘n groot probleem met kinders en kleinkinders wat by die oumense kom intrek.

“Ons kontrakte sê baie duidelik geen kinders mag by hulle ouers intrek nie, maar dit word toegelaat. Dit is die kinders wat moeilikheid hier veroorsaak. Hulle ruk en pluk die ouers rond en dit is baie ontstellend. Dit is ook die kinders wat in die nag rondloop. Geen oumens gaan 4 uur in die môre rondloop en ‘n kar aan die brand steek nie.”

Inwoners dring daarop aan dat die munisipaliteit die kinders wat by hulle ouers woon, moet uitsit.

Jeanette Tshite, munisipale-woordvoerder, sê nou dat al die probleme onder die munisipaliteit se aandag gebring is, kan daar ondersoek ingestel word en nodige veranderinge kan aangebring word.

Alex Gous wys waar een van die brandblussers uit die kas gesteel is.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

Tania Coetzee

I am a passionate journalist and photographer. I have been a photographer for 15 years and a journalist for 4 years. I recently started working for Potchefstroom Herald. I love writing people's stories and showcasing their inner beauty through photography.

Related Articles

Back to top button