Vrou verloor vryheid na kar vlam vat
Daar is ‘n vermoede dat iemand haar voertuig aan die brand gesteek het.

Neli Hayes (65), weduwee en pensioenaris, wat al vir vier jaar by Harmony en Immergroen aftreeoord woon, het al haar vryheid verloor toe haar enigste motor in Desember 2024 by die aftreeoord vlam gevat het.
Neli se man het in April 2016 siek geraak. Hy het ses agtereenvolgende beroertes gehad en is in 2022 oorlede.
“Nadat my man oorlede is, het ek ‘n motor wat ek kon afbetaal by my buurvrou gekry. Haar man is ook oorlede. Ek betaal steeds die kar af,” vertel Neli.
Sy moes verskeie probleme op die kar uit haar eie sak regmaak en daarna het die kar reg gery. Ongelukkig het ‘n tragedie vir Neli in Desember getref.
“Ek het die 4de Desember ‘n vrou van die ouetehuis hospitaal toe geneem en later weer gaan haal. Ek het gereeld mense vervoer wat nie vervoer het nie. Ek het na twee die middag my voertuig parkeer en nie weer met hom gery nie. Die voertuig het ook geen probleme gehad toe ek hom parkeer het nie.”
Neli het omstreeks 01:20 die oggend van die 5de Desember wakker geword van ‘n geraas waar die kompleks se wagte besig was om emmers water op haar kar te gooi. Die kar was aan die brand.
“Alles het gebrand. Elektries, plastiek, die battery, die band en die enjinkap. Ek gebruik my kar om ander ou en siek mense in ons kompleks na die hospitaal, kliniek, winkel of kerk toe te neem. Ek skuld nog geld op die kar, maar dit is nie die probleem nie. Ek het nie die finansies om die kar reg te laat maak of te vervang nie.”
Sy vertel daar is ‘n vermoede dat iemand haar voertuig aan die brand gesteek het en sy het ‘n saak van brandstigting en eiendom beskadiging by die polisie aanhangig gemaak.
Indien jy vir Neli wil help om haar voertuig weer aan die gang te kry, kan jy by haar BackaBuddy skenk: https://www.backabuddy.co.za/campaign/burned-opel-astra