Skoolhoof geen vreemdeling vir gemeenskap
Hy is hoogs gekwalifiseer en is wettig aangestel.
Die nuut aangestelde skoolhoof van Promosa Laerskool is nie ‘n vreemdeling vir die gemeenskap nie.
Tydens Dinsdag, 4 Februarie se optog deur ouers en gemeenskapslede oor hulle ontevredenheid met die aanstelling van die nuwe skoolhoof, het een gemeenskapslid ‘n uitlating gemaak en gesê die nuutverkose skoolhoof is van Fochville en ken nie die gemeenskap nie.
Inteendeel is die kandidaat al vir ‘n geruime tyd deel van die Promosa gemeenskap. Hy het in 2023 by Promosa Sekondêr skool gegee en in 2024 vir die jaar as waarnemende hoof opgetree.
“Hy is op meriete as skoolhoof verkies. Hy is hoogs gekwalifiseer en is wettig aangestel,” het ‘n anonieme bron aan die Herald gesê.
“Die departement wil ouers inlig dat dit nie moontlik is om ‘n voorkeurkandidaat vir die pos van skoolhoof te versoek nie,” het Mphata Molokwane, die departementele woordvoerder in ‘n verklaring gesê. Volgens Molokwane word die werwingsproses vir die skoolhoof deur gevestigde prosedures volgens die departement se beleid gelei. “Die individu wat onlangs in hierdie rol aangestel is, het alle nodige werwingsprosesse suksesvol voltooi. Die verwydering van die skoolhoof uit die skool kan lei tot kommer oor regverdigheid. Ons moedig die gemeenskap aan om saam met die nuwe skoolhoof te werk en die voortgesette onderrig en leer te ondersteun. Die departement is daartoe verbind om te verseker dat kinders se regte tot onderwys gehandhaaf word. Ouers kan verseker wees dat die aangestelde skoolhoof gekwalifiseerd is en die skool in ‘n positiewe rigting sal lei,” het Molokwane gesê.



