Stiefma in hof wat glo stiefdogter met kookwater brand
Die beskuldigde is op borgtog van R500 vrygelaat.

‘n Vrou (30) het haarself Donderdag, 6 Februarie aan die polisie oorhandig nadat sy bewus geword het dat lede van Potchefstroomse eenheid vir gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele misdrywe (GBS) op soek was na haar.
Kaptein Mpho Manyoba, polisiewoordvoerder, sê ’n klag van mishandeling van ’n sewe-jarige kind is op Vrydag, 31 Januarie ontvang.
“Volgens inligting het die beskuldigde, wat die kind se stiefma is, haar met kookwater gegooi. Die voorval het verlede maand by Tshing naby, Ventersdorp plaasgevind. Die kind het beserings aan haar bene en bolyf opgedoen.”
Die beskuldigde het Vrydag, 7 Februarie in die Ventersdorp-landdroshof op aanklag van aanranding met die doel om ernstig te beseer, verskyn. Sy is op borgtog van R500 vrygelaat. Die saak is tot 7 Maart uitgestel.
‘n Forensiese Maatskaplike Werker het die kind ondersoek en die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling het reëlings getref dat die slagoffer na haar biologiese ma in KwaZulu-Natal geneem word.
Die saak word steeds ondersoek.