Goeie begin vir Potch Dorp
Die Piet Visagie beker word jaarliks tussen Potch Dorp en Parys beslis.
Potch Dorp het die afgelope naweek hulle seisoen met ‘n wedstryd teen Parys afgeskop.
In die wedstryd word daar vir die jaarlikse Piet Visagie beker meegeding. Die Potchefstromers het in 2025 die beker gewen, nadat hulle vir Parys met 29 -5 in Viljoenskroon geklop het.
Volgens Henry Stewart, hoofafrigter van Potch Dorp, was dit ‘n bestendige eerste wedstryd van die jaar.
“Ons het al in November verlede jaar begin oefen met ‘n kern groep spelers. Ek dink dit het baie gehelp. Die spelers het die wedstryd goed begin en goed by die wedstryd plan gebly. Dit het net voor die wedstryd gereën en dit het die bal glad gemaak wat weer die hantering so bietjie moeilik gemaak het. Ons het vyf baie mooi driee gedruk en dan het ons nog vyf deur ons vingers laat glip. Die skrums en verdediging was skitterend maar ons sal nog aandag moet gee aan die lynstane, ondersteunende spel en beheer van die fases as ons die bal het,” het Stewart na afloop van die wedstryd verduidelik.
Die Piet Visagie beker word jaarliks tussen Potch Dorp en Parys beslis. Dit is vernoem na wyle Piet Visagie, Springbok speler wat vir albei klubs op sy dag as speler uitgedraf het.
Potch Dorp se tweede XV het hulle kragmeting teen Viljoenkroon met 27 – 20 verloor.
Stewart glo dat die klein probleme voor die begin van die Neser-liga uitgestryk sal word.
“Ons het twee senior spelers wat nie kon speel nie en beide ons slotte van 2024 is weg so daar is bietjie ‘n uitdaging om dit te vul. Daar nog so drie vriendskaplike wedstryde vir voorbereiding en sal ons hopelik reg wees. Hoop net ons kry geen ernstige beserings,” het hy gesê.
Vir die nuutste plaaslike rugby-nuus en bepalings besoek:
https://www.citizen.co.za/potchefstroom-herald/local-rugby-hub/



