Local news

Flink gedink toe swerm bye man aanval

Jaco vertel hy het daardie oggend omstreeks 10:00 op sy fiets gery toe ‘n heuningby op sy arm land en hom steek.

Jaco Mey, ‘n onderwyser by President Pretorius Primêr, is 8 Februarie deur ‘n swerm bye aangeval toe hy gaan fiets ry het. Te danke aan ‘n vreemdeling se slim plan, is Jaco nou hier om die storie te vertel.

Tim Flemming vertel hy was Saterdagoggend op pad na sy dogtertjie se verjaarsdagpartytjie toe hy op die Paryspad naby die tronk op ‘n skrikwekkende toneel afkom.

“Ek het ‘n fiets half in die pad sien lê, met ‘n man wat in die middel van die pad was. My eerste gedagte was dat die man dalk sy eie lewe wou neem en dat dit nie die antwoord was nie. Tot my groot skok, toe ek nader kom, was hy swart soos wat hy toegepak was van die bye. Die geskree was verskriklik.”

In daardie stadium het Thys Ellis, sy vrou en twee jong dogtertjies ook op die toneel gestop, maar niemand kon iets vir Jaco doen nie.

Jaco vertel hy het daardie oggend omstreeks 10:00 op sy fiets gery toe ‘n heuningby op sy arm land en hom steek.

“Ek het eweskielik die geluid van die swerm gehoor wat op my afkom. Hulle sê altyd as bye jou aanval, moet jy vinnig probeer wegkom en skuiling soek. Ek het vinniger probeer ry, maar dit het niks gehelp nie.”

Hy vertel die swerm het op hom toegesak en hom begin steek. Daar was niks wat hy kon doen nie. Hy het van sy fiets afgespring en in die pad in gehardloop om te probeer hulp soek.

“Dit is toe wat die twee bakkies aftrek. Ek het geskree dat hulle my moes help, maar die bye het in my oë, neus en mond ingegaan.”

“Die mense in die bakkies kon nie uitklim nie en ek kon ook nie inklim nie. Ek het in die pad neergesak. Dis toe wat Tim vir my skree om agter op sy bakkie te spring.”

Jaco het agter op Tim se bakkie gespring en Tim het weggejaag terwyl Jaco agterop gestaan en vashou het. Die spoed en die wind het meeste van die bye afgewaai.

“Tim het na ‘n ruk stadiger gegaan en wou stop, maar toe sê ek vir hom om nog te ry, want daar was nog bye op my. Na ‘n ruk het ons gestop en die laaste paar bye afgeklap.”

Tim het vir Jaco direk Mediclinic toe gevat, waar hulle hom onmiddellik opgeneem het en met adrenalien ingespuit het.

“By die hospitaal het ek gevoel hoe my bene begin ingee,” vertel Jaco.

Die Ellis-gesin wat ook daar gestop het, het gewag vir die bye om weg te gaan sodat hulle Jaco se fiets kon optel, maar hulle moes na ‘n tyd vertrek.

Wentzel van Zyl, ‘n boer op ‘n plot daar naby, het Jaco se fiets gaan optel meer as ‘n uur later omdat die bye vir so lank nog in die omgewing rondgehang het. Die Ellis-gesin en Wentzel moes ook ander fietsryers en voetgangers waarsku om uit die omgewing te bly.

Jaco het later ‘n plasing op Facebook gemaak om te hoor of iemand dalk sy fiets opgespoor het. Wentzel het sy fiets aan hom terugbesorg.

Te danke aan vreemdelinge wat langs die pad gestop het, Tim se flink dink en Wentzel wat Jaco se fiets veilig gebêre het, gaan dit nou goed met Jaco. Hy het wel honderde bysteke opgedoen, maar is ontslaan en terug by die werk.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Tania Coetzee

I am a passionate journalist and photographer. I have been a photographer for 15 years and a journalist for 4 years. I recently started working for Potchefstroom Herald. I love writing people's stories and showcasing their inner beauty through photography.

Related Articles

Back to top button