Local news

Tieners en dwelms – só help jy jou kind

Emosioneel kan 'n tiener skielik meer buierig, depressief, angstig of aggressief raak.

Dirk-Jozua Pienaar (37), of DJ, soos almal hom ken, is ‘n lewende getuienis dat daar altyd nog ‘n kans is om jou lewe om te draai, beheer oor jou verslawing te neem en ‘n wonderlike toekoms vir jouself te kan bou. Hy was self vir tien jaar aan dwelms verslaaf, waarvan hy ses daarvan ‘n volslae dwelmverslaafde was.

Hy het met die genade van die Here sy lewe omgedraai en nooit weer teruggeval in verslawing nie,sê hy. Trouens, hy het dit sy roeping gemaak om ander uit hulle verslawing te help. DJ het twee jaar gelede sy werk bedank en Per Gratiam Recovery & Wellness begin. ‘n Praktyk wat fokus op verslawing intervensie, berading en lewensafrigting. Hier gee hy raad oor tieners en dwelms.

Tekens dat ‘n tiener moontlik dwelms gebruik:

Ouers moet waaksaam wees vir fisiese, gedrags- en emosionele veranderinge wat kan aandui dat hul tiener moontlik met dwelms eksperimenteer. Fisiese tekens sluit in rooi of glasige oë, ‘n gereelde loopneus (veral met sekere middels), skielike gewigsverlies of -toename, bewerigheid en ‘n gebrek aan persoonlike higiëne. Gedragsveranderinge soos ‘n afname in akademiese prestasie, gereelde afwesigheid van die huis, geheimsinnige of verdedigende gedrag, en ‘n verandering in vriendekringe kan ook rooi vlae wees.

Emosioneel kan ‘n tiener skielik meer buierig, depressief, angstig of aggressief raak, en hulle kan hul gesin begin vermy of minder betrokke raak by huishoudelike aktiwiteite. Ouers moet hulle instink vertrou.

Niemand ken hulle kinders beter as wat ouers doen nie.

Wat om te doen as ‘n ouer vermoed hul tiener gebruik dwelms?
Die belangrikste is om kalm te bly en nie impulsief te reageer met woede of beskuldigings nie. Ouers moet eers die nodige feite insamel deur hul kind se gedrag, skoolprestasie en sosiale verhoudings dop te hou.

Dit is belangrik om ‘n oop en ondersteunende gesprek met die tiener te begin, eerder as om hulle te konfronteer op ‘n manier wat hulle verdedigend kan laat reageer.

Die doel is om ‘n veilige ruimte te skep waarin die tiener eerlik kan wees oor enige probleme. Indien die reaksie nie die gedrag bevestig nie, moet ‘n ouer so vinnig as moontlik ‘n 5,6 of 7 paneel dwelmtoets by hulle naaste apteek koop, en dan die kind ‘n geleentheid gee om ‘n urinetoets te doen. Indien daar enige weerstand gebied word teen ‘n dwelmtoets, is dit ‘n duidelike gevaarteken en ook ‘n baie goeie rede om in te gryp, en die nodige partye (kenners) in die gebied te nader. Moet asseblief nooit verleë of skaam wees om die stap te neem nie – hoe vinniger ‘n ouer ingryp, hoe beter.

Wat om te doen as ‘n ouer hul kind met dwelms betrap
As ‘n ouer dwelms in hul kind se besit kry, of hulle op heterdaad betrap, moet hulle ferm maar ondersteunend optree. Dit is belangrik om duidelike grense te stel en die ernstige gevolge van dwelmgebruik te beklemtoon. Terselfdertyd moet ouers probeer om te verstaan waarom hul kind die dwelms gebruik, en of daar onderliggende probleme soos depressie, angs of groepsdruk is. Dit is beslis altyd nodig om professionele hulp te kry, soos ‘n berader , of ‘n dwelmafleëringsprogram afhangende hoe diep die situasie al ontwikkel het. Ouers kan beslis ‘n stap vorentoe vat om hulself te ontwikkel en op te voed oor soveel as moontlik inligting oor dwelmmisbruik. Deur dit kan hulle kinders inlig oor die skade van dwelmmisbruik, en die boodskap dat dit nooit goed eindig nie, baie ernstig beklemtoon. Dit is nooit té vroeg om in te gryp met iets so verwoestend soos dwelms nie.

Ouers kan selfs by ondersteuningsgroepe en bewusmakingsprogramme aanmeld. Ouers kan ook saam staan en ook dit onder die skole se aandag bring dat dwelmbewusmakingsprogramme as prioriteit geag moet word onder kinders en tieners.
Waarom kinders en tieners dwelms gebruik.

Daar is verskeie redes waarom jongmense na dwelms kan draai. Baie tieners gebruik dwelms weens groepsdruk en ‘n behoefte om in te pas by hul portuurgroep. Ander probeer om emosionele pyn, angs of depressie te hanteer deur middel van dwelmmisbruik. Sommige tieners soek opwinding en eksperimenteer met dwelms vir die adrenalien of die nuwe ervaring daarvan.

Omgewingsfaktore soos ‘n gebrek aan ouerlike toesig, ‘n disfunksionele huislike omgewing of blootstelling aan dwelms in hul sosiale kringe kan ook ‘n rol speel. Onthou – baie goed kan lei tot die eerste kere se gebruik, maar op die einde is dit ‘n keuse om dwelms oor en oor te gebruik. Meeste van die kere moet ouers drasties ingryp om die bose kringloop tot ‘n einde te bring.

Hoe ouers hul kind kan ondersteun nadat hulle skoongekom het?
Herstel van dwelmgebruik is ‘n lang proses wat fisiese, emosionele en sosiale ondersteuning verg. Ouers moet geduldig wees en hul kind aanmoedig om by ondersteuningsgroepe of beradingsessies betrokke te bly. Meestal verg dit ‘n situasie waar die tiener eers verwyder moet word uit die samelewing uit, en ‘n binnepasiënt-program moet voltooi. Daarna volg ‘n langtermyn buitepasiënt-program.

Dit is belangrik om ‘n positiewe en gesonde huisomgewing te skep waarin die kind ‘n gevoel van stabiliteit en sekuriteit ervaar. Deurlopende kommunikasie en ‘n sterk ondersteuningsnetwerk kan help om terugvalle te voorkom. Verder moet ouers bewus wees van moontlike snellers wat die kans op hergebruik kan verhoog.

Vir enige vrae of inligting kontak DJ Pienaar van Per Gratiam Recovery & Wellness by 066 270 5207.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

Tania Coetzee

I am a passionate journalist and photographer. I have been a photographer for 15 years and a journalist for 4 years. I recently started working for Potchefstroom Herald. I love writing people's stories and showcasing their inner beauty through photography.

Related Articles

Back to top button