Polisie vra publiek se hulp rakende karwag se dood
Die sak wat hy altyd by hom gedra het, is later in Paulstraat in Potchefstroom opgespoor.
Die Potchefstroom-polisie versoek die gemeenskap se bystand in die geregtelike ondersoek van Belzaser Johannes Moolman (61) se dood.
Moolman, wat ‘n karwag in Dr James Morokalaan, Potchefstroom was, is op 15 Desember 2023, laas lewend deur sy lewensmaat gesien toe hy iets by ‘n nabygeleë winkel gaan koop het.
Kolonel Adéle Myburgh, polisiewoordvoerder, sê op 16 Desember 2023 omstreeks 10:00, het ‘n verbyganger Moolman se liggaam langs die Viljoenskroonpad (R501) by Haaskraal, sowat 17km vanaf Potchefstroom, baie naby aan sy woonadres ontdek.
Die sak wat hy altyd by hom gedra het, is later in Paulstraat in Potchefstroom opgespoor, maar dit was geskeur.
Enigiemand wat dalk inligting het wat die polisie in hierdie ondersoek kan bystaan, word versoek om die ondersoekbeampte, adjudantoffisier Simon Mokgopha van die Potchefstroomspeurders by 083 553 8672 of 018 299 7411 te kontak. Anonieme wenke kan gekommunikeer word via die SuidAfrikaanse Polisiediens op 08600 10111 of op die MySAPS-toepassing vanaf jou slimfoon.



