Kind verloor arm in krokodil-aanval
Hy is sedertdien in ‘n privaat hospitaal in die pedriatiese intensiewesorgeenheid opgeneem.
Johandré Blom (7) se arm is op 21 Maart deur ‘n krokodil afgebyt toe hy in vlak water by Emanzini, naby Brits gespeel het.
Johandré was saam met sy ouers, Corné en Amanda, by ‘n visvangoord en het saam met ‘n maat gespeel toe die voorval plaasgevind het. Johandré se maat het hom van die krokodil probeer wegtrek, waarna Corné ingespring het om te help. Die krokodil het met Johandré en Corné in die rondte gedraai en toe hulle kon loskom, was Johandré se arm weg.
Hy is sedertdien in ‘n privaat hospitaal in die pedriatiese intensiewesorgeenheid opgeneem. Johandré was tot Maandag, in ‘n geïnduseerde koma gewees.
H.E.M.S (Hartbeespoort Emergency Medical Services) sê dié diens het ‘n noodoproep gekry van ‘n jong seun wat in vlak water gespeel en deur ‘n krokodil aangeval is. Die gesin was onderweg met die beseerde seun na die hospitaal toe die ambulans hulle langs die pad gekry, waar hulle hom oorgelaai en gestabiliseer het.
Johandré is na ‘n plaaslike hospitaal in Brits vervoer, maar die ernstige situasie het gespesialiseerde mediese behandeling geverg. H.E.M.S het ‘n lugambulans ontbied en die seun is na ‘n hospitaal in Alberton, Gauteng, gevlieg.
Klein Johandré is steeds in die waakeenheid onder verdowing, maar sy lewe is buite gevaar.



