Local news

Personeel slaap glo aan diens by hospitaal

Intussen word die publiek aangemoedig om enige sodanige gedrag aan te meld wat 'n impak op dienslewering kan hê.

‘n Facebook-plasing wat Peter Sutherland op ‘n Potchefstroom groep geplaas het, waar personeel glo aan diens by Potchefstroom Hospitaal slaap, het Potchefstromers baie ontstel. In die plasing is twee foto’s waar mens kan sien hoe ‘n personeellid agter die toonbank venster lê.

In sy plasing sê Pieter: “Ons het 05:30 vanoggend by Potchefstroomhospitaal aangekom, leêrs was teen die vensters geplak met die ontvangs personeel wat lê en slaap terwyl minstens 15 ander pasiënte sit en wag. Om 06:30 word die leêrs af gehaal en pasiënte wat die vensters benader was gesê om te gaan sit en hulle sal geroep word. Absolute swak diens!”

Die plasing het natuurlik baie kommentaar uitgelok.

“Dit is die mees tragieste en swakste hospitaal wat ek al ooit by was. Ons was die naweek daar toe vriende van ons se dogter by ongevalle gewag het. Die bloed wat op grond lê waar mense moet beweeg is walglik verby, dan moet die arme kinders dit sien. Bestuur gaan soos altyd niks doen nie, want die bestuur is die probleem. Daai hospitaal sien ons nooit weer nie,” het Jacques Engelbrecht in die kommentaar gesê.

Ina Visagie sê weer sy het goeie diens gekry.

“Ons was drie weke terug daar met my ma wat geval en haar heup gebreek het. Het net goeie behandeling gekry, van ongevalle tot in Saal 1. Dit was skoon en almal was behulpsaam. Ons kan regtig nie kla nie. Jammer vir almal se ongerief.”

Modiri Mompati, woordvoerder by Potchefstroom Hospitaal, sê die hospitaal se bestuur wil graag reageer op ‘n betreurenswaardige voorval wat sedert 24 Maart op Facebook die rondte doen.

“Die voorval is met betrekking tot ‘n werknemer wat na bewering daardie tyd van die oggend aan die slaap was terwyl die personeellid by opnames aan diens was,” het Mompati gesê.

“Die hospitaal het ‘n dringende ondersoek na die aangeleentheid ingestel met die bestuurder wat verantwoordelik is vir die insameling van verslae oor hierdie voorval wat onder bestuur se aandag gebring is.”

Volgens Mompati het die voorval gebeur toe die werknemer op die punt was om uit te klok.

“Potchefstroom Hospitaal sal voortgaan om kwaliteit gesondheidsorg te handhaaf en te lewer soos verwag word, en as daar na ondersoeke bevind word dat daar wel waarheid in die bewerings is, sal regstellende maatreëls ingestel word.”

Intussen word die publiek aangemoedig om enige sodanige gedrag aan te meld wat ‘n impak op dienslewering kan hê, aangesien dit ook die fasiliteit sal help om te verbeter waar daar tekorte is.

“Die hospitaal wil dit duidelik maak dat dit nie die soort gedrag is wat in die Staatsdiens aangemoedig word nie,” het Mompati gesê.

Foto waarin die personeellid gesien kan word.
Karton wat op die vensters geplak is.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

Tania Coetzee

I am a passionate journalist and photographer. I have been a photographer for 15 years and a journalist for 4 years. I recently started working for Potchefstroom Herald. I love writing people's stories and showcasing their inner beauty through photography.

Related Articles

Back to top button