Local news

Vrees en angs na ‘Sangoma-ritueel’ by NWU koshuis

“Sondagaand se voorval het uiterse vrees en angs by medeinwoners veroorsaak."

Bloedstollende gille wat glo Sondag, 13 April tydens ‘n Sangoma-ritueel in ‘n dameskoshuis by die Noordwes- Universiteit (NWU) gehoor kon word, het veroorsaak dat talle vroulike studente nie meer veilig voel nie.

AfriForum Jeug eis dat die Noordwes-Universiteit (NWU) ’n formele ondersoek doen nadat ’n ritueel deur ’n sangoma, wat met bloedstollende gille gepaard gegaan het, na bewering Sondagaand in ’n dameskoshuis in Potchefstroom plaasgevind het. Die jeugorganisasie het Maandag inligting rakende die voorval sowel as ’n stel eise in ’n brief aan prof. Marlene Verhoef, registrateur van NWU, uiteengesit.

Volgens Yvonne Gerber, jeugbeampte by AfriForum Jeug, het die voorval teen omstreeks 22:10 plaasgevind. Die ritueel, wat in ’n koshuiskamer op ’n inwoner van die koshuis uitgevoer is, het na bewering gebede aan voorvadergeeste en ander tradisionele praktyke ingesluit wat met tradisionele genesing deur sangomas verband hou.

Paniekbevange koshuisinwoners het AfriForum Jeug van die voorval in kennis gestel. Op die klank- en beeldmateriaal wat inwoners van die koshuis aan AfriForum Jeug gestuur het, kan gille – vermoedelik dié van die student wat deur die sangoma behandel is – duidelik gehoor word.

AfriForum Jeug is intussen in kennis gestel dat Sondagaand se voorval nie die eerste sangoma-verwante voorval in die betrokke koshuis was nie. Ná afloop van ’n soortgelyke voorval in dieselfde koshuis sowat ’n maand gelede het ’n aantal besorgde studente die koshuismoeder oor die voorval genader. Haar reaksie was egter na bewering minagtend en die studente is bloot aangesê “om nie bang te wees nie”.

“Sondagaand se voorval het uiterse vrees en angs by medeinwoners veroorsaak. Tog is studente se kommer by ’n vorige geleentheid geringgeskat. Dit is duidelik dat koshuisbestuur nie insien watter emosionele en sielkundige impak voorvalle soos dié op ander inwoners het nie. Talle damesstudente voel nou onveilig voel in dié koshuis of is selfs nie eens meer gemaklik in hul eie kamers of in gemeenskaplike ruimtes in die koshuis nie,” verduidelik Gerber.

In die skrywe aan Verhoef, benadruk AfriForum Jeug, dat die eise wat aan die universiteit gestel word, nie spruit uit enige vorm van geloofs- of kulturele onverdraagsaamheid nie, maar eerder ’n oproep is om wedersydse respek en verantwoordelike bestuur van gedeelde universiteitsruimtes.

AfriForum Jeug eis dat ’n formele ondersoek van stapel gestuur word na gisteraand se gebeure; dat die universiteit ’n duidelike standpunt en beleid oor die beoefening van geloofs- en kulturele rituele in koshuise saamstel; en dat toegewyde ruimtes vir die beoefening van soortgelyke rituele of seremonies ingeruim moet word wat die regte van alle studente beskerm en respekteer. Daarbenewens word ook geëis dat opleiding aan koshuisbestuur gebied moet word in die hantering van studenteklagtes, en dat traumaberading beskikbaar gestel moet word aan inwoners van die koshuis wat emosioneel deur die voorval geraak is.

Louis Jacobs, NWU-woordvoerder, het aan Herald bevestig die Universiteit het Afriforum se geskerwe ontvang.

“Ons is bewus van die voorval en die aangeleentheid kry reeds aandag,” het Jacobs gesê.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

Tania Coetzee

I am a passionate journalist and photographer. I have been a photographer for 15 years and a journalist for 4 years. I recently started working for Potchefstroom Herald. I love writing people's stories and showcasing their inner beauty through photography.

Related Articles

Back to top button