Sinkgat steeds ‘n gevaar
Herstelwerk gaan steeds voort en daar is nie tans ‘n tydlyn vasgestel teen wanneer die herstelwerk voltooi sal wees nie.
Die herstelwerk van die sinkgat wat twee weke gelede in Eleaser en Dwarsstraat ingeval het, is steeds nie voltooi nie. Inteendeel is die gat deur die munisipaliteit groter gemaak om herstelwerk te vergemaklik.
Jeanette Tshite, munisipale woordvoerder, sê die munisipaliteit kan bevestig dat die probleem beslis nie ‘n sinkgat is nie.
“Die uitdaging was dat die asbesrioolpyp gelek het en die teeroppervlak laat ineenstort. Dit is as ‘n noodgeval beskou. As gevolg daarvan is die tegniese span van die munisipaliteit na die toneel ontbied om die skade reg te stel.”
Herstelwerk gaan steeds voort en daar is nie tans ‘n tydlyn vasgestel teen wanneer die herstelwerk voltooi sal wees nie.
Bertus le Roux, wyksraadslid, versoek die publiek vriendelik om tot verdere kennisgewing nie die pad te probeer gebruik nie en eerder alternatiewe roetes te gebruik.
“Verskeie individue wat die sluiting probeer omseil het, het in die modder op die sypaadjie vasgeval. Moet asseblief nie probeer om deur die geslote kruising te gaan nie, vir jou eie veiligheid en om verdere vertragings te vermy. Ons waardeer u begrip en samewerking terwyl die Stadsraad se spanne werk om die area veilig en so vinnig as moontlik te herstel.”



