Potch spesialis vereer met top-toekening
Hy het ook meer as 200 praatjies op verskillende radiosenders gegee.
Die Raad van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns het op 25 April met groot genoeë die gesogte Akademiepryse vir 2025 aangekondig. Dié pryse sal by ’n bekroningsplegtigheid in September in Stellenbosch aan die wenners oorhandig word. Die bekroondes is reeds mondelings daaroor ingelig.
MT Steynprys vir Natuurwetenskaplike en Tegnologiese Prestasie
Die prys word toegeken aan ’n persoon vir sy/haar skeppende bydraes tot die ontginning, organisasie en volgehoue uitbouing van die natuurwetenskappe en/of die tegnologie (of ’n vertakking/s daarvan) én die suksesvolle toepassing daarvan in breër verband soos in landsbelang. Die prys word gesien as ’n kroon op ’n lewenstaak en kan daarom net een maal aan ’n persoon toegeken word.
Die prys word vanjaar toegeken aan dr. Thomas William Drinkwater, afgetrede entomoloog en spesialis navorser by die Landbounavorsingsraad. Dr. Drinkwater ontvang die prys vir die uitstaande bydrae wat hy deur sy navorsing gelewer het tot die landboubedryf in Suid-Afrika.
Gedurende sy loopbaan lewer hy 30 referate by nasionale en internasionale kongresse, skryf 26 artikels in wetenskaplike vaktydskrifte, 21 in bladskrifte en bulletins, 54 in populêre landboutydskrifte en 15 kontrakverslae vir chemiese firmas.
Hy het ook meer as 200 praatjies op verskillende radiosenders gegee. Hy was ’n gewilde spreker by verskeie studiegroepe en boeredae, regdeur die mielieproduksiegebied en was ’n genooide gas van verskeie institute in Australië en Duitsland. Hy is deur Prof. Johnnie van den Berg van NWU genomineer.



