Behulpsame polisie verleen helpende hand
Ons kon dit nie hoor nie omdat die ruite toe was en musiek in die kar aan was.
‘n Polisiekaptein en twee polisiemanne van Bloemhof het hul medemenslikheid gewys toe hulle by ‘n padblokkade uit hul pad gegaan het om ‘n Potchefstromer te help.
Elizma Ferreira van Potchefstroom vertel sy is 2 Mei tydens ‘n padblokkade gestop toe ‘n snaakse geluid by haar voertuig gehoor is.
“Ek is tydens ‘n roetine padblokkade afgetrek en die kaptein het vir my genoem dat daar ‘n snaakse geluid by die voertuig se voorwiel is. Ons kon dit nie hoor nie omdat die ruite toe was en musiek in die kar aan was. Twee konstabels het gehelp om die wiel af te haal en te kyk wat aangaan. Hulle het ‘n klippie gekry wat tussen die disks ingegaan het. Hulle het dit uitgehaal en die wiel weer vir ons teruggesit.”
Elizma vertel al was dit ‘n klein probleem, wys dit net dat daar nog mense is wat besorgd is oor ander se veiligheid.
“Dit was dalk nie iets ernstig nie, maar hul bekommernis oor ons veiligheid en hul vriendelikheid was hartverblydend. Om te weet ons polisiemag is nog daar om te help doen mens goed.”



