Baillies maak diere harte bly
Baillie Park-leerders bring warmte en hoop vir PAWS-dierekinders met kos, komberse en liefdevolle bydraes.
Kersfees het vanjaar baie vroeg gekom vir die dierekinders by PAWS. Dit is alles te danke aan ‘n inisiatief van Laerskool Baillie Park se tweedekwartaalleiers. As jy koud kry, kry jou diere ook koud! Dit is hierdie harde werklikheid wat die leiers laat besluit het om ‘n projek van stapel te stuur wat sal verseker dat die viervoetige kinders by PAWS genoeg kos en komberse het om die koue af te weer. Die kinders is aangemoedig om honde- en katkos en komberse skool toe te bring. Sommige kinders het selfs speelgoed vir die katte gebring. PAWS was dankbaar vir elke bydrae, ook vir tweedehandse komberse en hondejassies. Op Vrydag, 30 Mei, het die tweede kwartaal se hoofleiers – Wilmari Minnaar, Kiana Fouché, Xandré Baron en Max Botha – die goedjies wat ingesamel is aan verteenwoordigers van PAWS oorhandig. Hulle het ook ‘n koevertjie met ‘n donasie in die vorm van geld, oorhandig. Baie dankie aan elke leerling, ouer en onderwyser by Baillie wat hulle harte vir PAWS oopgemaak het.



