Local news

Kuberkraker in besit van Potch polisie se dossiere

‘n Ander slagoffer, wat ook onder diefstal deurgeloop het, is glo deur die kuberkrakers met haar persoonlike inligting gedreig.

Verskeie Potchefstromers loop deur onder kuberkrakers wat die Potchefstroom-polisie se dossiere-afdeling deurgedring het. Die kuberkrakers is in besit van persoonlike inligting van mense wat onlangs sake by die polisie aanhangig gemaak het. Hulle word nou gebel en gedreig of afgepers.

Minda Oosthuizen (69) is een van die slagoffers wat al met hierdie kuberkrakers te doen gehad het.

Sy vertel daar is by hul plaas op Boskop ingebreek en omdat haar man in daardie stadium uitstedig was met stroopseisoen, moes sy als hanteer en die saak by die polisie oopmaak.

“Op 28 Junie het ‘n plaaswerker my ingelig dat daar ‘n rol koperdraad gesteel is. Ek het die polisie ontbied, wat vinnig opgedaag en ‘n verklaring geneem het. Die volgende dag het ‘n man, wat gebroke Engels praat, my gekontak en homself as die speurder wat met die saak werk voorgedoen,” vertel sy.

Minda vertel hy het haar op haar doopname genoem en alles van die saak geweet.

“Hy het gesê die polisie het die rol draad gekry en hy wou dit terugbring. Hy het ook gesê daar is drie verdagtes in hegtenis geneem. Ons was onseker oor die situasie omdat die draad van die rol afgesteel was en iets het nie reg geklink nie.”

Later daardie dag het die polisie se vingerafdrukkeafdeling vir Minda geskakel om te reël om vingerafdrukke te gaan neem. Dit is toe wat hulle uitvind die rol draad is nie gekry nie en geen verdagtes is gearresteer nie. Gelukkig kon Minda die waarheid hoor voordat die kuberkrakers die geleentheid gehad het om hulle te dreig.

“Dit laat mens baie onveilig voel en dit skep vir mens baie probleme. Ek en my man is albei nie meer jonk nie. Dit is skrikwekkend om te dink dat iemand met al my inligting en adres sit.”

‘n Ander slagoffer, wat ook onder diefstal deurgeloop het, is glo deur die kuberkrakers met haar persoonlike inligting gedreig nadat sy geweier het om te betaal om haar gesteelde goedere terug te koop.

Nog ‘n slagoffer, wat anoniem wil bly, het ‘n saak van diefstal by die polisie oopgemaak. Sy tablet is deur sy voertuig se ruit gegryp. Kort daarna is hy deur die kuberkrakers gekontak wat hulself as speurders voorgedoen het. Volgens die kuberkrakers is sy tablet glo opgespoor en die speurder wou dit vir hom terugbring. Kort voor lank is hy gevra om te betaal om die tablet terug te kry en toe hy weier, is hy met sy persoonlike inligting gedreig.

Kaptein Mpho Manyoba, polisiewoordvoerder, sê die polisie kan bevestig dat hulle ten volle bewus is van hierdie situasie en die ondersoek in hierdie verband is aan die Teen-korrupsieeenheid oorhandig vir intensiewe ondersoek.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

Tania Coetzee

I am a passionate journalist and photographer. I have been a photographer for 15 years and a journalist for 4 years. I recently started working for Potchefstroom Herald. I love writing people's stories and showcasing their inner beauty through photography.

Related Articles

Back to top button