Riool nagmerrie vir Viljoenstraat-gesin
Prinsloo vertel die hele gesin, insluitend hulle honde, is al siek weens die probleem.
Die Prinsloo gesin wat in Viljoenstraat bly, lewe al vir vier weke in riool nadat dit by al wat ‘n drein in hulle erf is, uitloop. Nie net is die reuk verskriklik nie, maar dit hou ook ‘n gesondheidsrisiko in vir die familie.
Die gesin het uit desperaatheid na die Herald uitgereik vir hulp. Chantal
Prinsloo vertel die hele gesin, insluitend hulle honde, is al siek weens die probleem.
“Ons kan nie die honde of kinders laat buitentoe gaan nie, maar ons kan hulle ook nie in die huis hou nie, omdat die riool tot in die huis ook uitlek. Dit is nou baie erger met die kinders wat by die huis is tydens die skoolvakansie.”
Chantal sê die reuk maak hulle naar en hulle kan nie eers meer kos maak of eet in hulle eie huis nie. Die riool stoot nie net in hulle erf uit nie, maar ook in hulle kombuis en motorhuis.
“Ons bel aanhoudend die munisipaliteit, maar niemand kom uit nie. Ons het al ook ‘n privaat kontrakteur laat uitkom, maar omdat dit ‘n munisipale probleem is, kan die kontrakteur ons nie help nie.”
Die Herald het navraag by die plaaslike munisipaliteit gedoen, maar ten tyde die publikasie is geen terugvoer ontvang nie.






