Local news

Hoe jy kan van uitbranding herstel en weer balans vind?

Uitbranding is nie meer ’n seisoenale probleem nie, dit raak jong en oud reg deur die jaar.

Om vriende of kollegas oor uitbranding te hoor praat, was vroeër ‘n einde-van-die-jaar ding, maar nie meer nie.

In vandag se vinnig veranderende wêreld is die druk om elke dag jou beste in elke aspek van die lewe te presteer, konstant. Tammy Dicks, ER24 Trauma Ondersteuningskoördineerder, gee ‘n paar wenke oor hoe mense van uitbranding kan herstel.

In 2019 het die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) uitbranding geklassifiseer as ‘n sindroom wat veroorsaak word deur “chroniese werkplekstres wat nie suksesvol bestuur is nie” en verder beraam dat 1 uit 5 tieners en 1 uit 4 volwassenes op ‘n stadium in hul aktiewe lewens deur uitbranding geraak sal word.

“Ons vergeet dikwels dat ons menslik is, gedrewe om te presteer  is ons geneig om te vergeet om selfsorg te prioritiseer en die tekens te herken voordat dit te laat is,” verduidelik Tammy.

Tekens dat jy aan uitbranding ly, kan aanvanklik subtiel wees.

“Dis soos om jou motor te bestuur met die enjinbestuurliggie aan; as dit nie gekontroleer word nie, sal dit uiteindelik tot stilstand kom,” sê Tammy.

As dit nie aandag kry nie, kan uitbranding daartoe lei dat ‘n individu paniekaanvalle, spysverteringsprobleme, hartsiektes of depressie ervaar. In die ergste geval kan dit jou emosioneel losmaak van die mense vir wie jy die meeste omgee en ‘n gebrek aan empatie teenoor ander laat voel.

Dit is belangrik om daarop te let dat diegene wat uitbranding ervaar, dit dikwels as ‘n persoonlike mislukking beskou, terwyl dit ‘n geleidelike proses is wat tussen 3 maande en 4 jaar neem om te herstel.

Uitbranding kan moeilik wees om te hanteer, maar daar is verskeie selfsorgstrategieë wat jou kan help om te herstel. Hier is ‘n paar effektiewe benaderings:

Stel perke:

Definieer werk en persoonlike tyd duidelik om te veel toewyding te vermy. Moenie meer aanpak as wat jy kan hanteer nie.

Slaapkwaliteit:

Om nie genoeg kwaliteit slaap te kry nie, kan kortisolvlakke (streshormoon) verhoog, wat lei tot meer stres, uitputting en kognitiewe probleme. Verbeter slaapkwaliteit deur alkohol of kafeïen voor slaaptyd te vermy, ‘n afkoelroetine te implementeer en ‘n slaapskedule te handhaaf. Maatreëls om slaapkwaliteit te verbeter, kan jou help om te herstel en uitbranding te voorkom.

Bly aktief – oefening en beweging:

Oefening en beweging verlig stres en kan jou bui positief beïnvloed en stresvlakke effektief verlaag.

Bewustheidspraktyke:

Sluit bewustheid, meditasie, joernaalhou, diep asemhalingsoefeninge en aardingstegnieke in jou daaglikse roetine in. Dit help jou om op die hede te fokus, jou bewustheid te verbeter en stres te verminder.

Bly in verbinding:

Bring tyd deur saam met vriende en familie of vind ondersteuningsgroepe om jou gevoelens en ervarings te deel.

Neem ‘n blaaskans:

Skeduleer gereelde blaaskanse gedurende jou dag om te herlaai.

Vind ‘n stokperdjie:

Neem deel aan aktiwiteite waarvan jy hou om te ontspan en af te skakel.

Soek professionele hulp:

Moenie huiwer om ‘n terapeut of berader vir ondersteuning te kontak nie.

Alhoewel die herstelproses stadig en uitdagend kan wees, is dit belangrik om te onthou dat uitbranding individue in verskeie beroepe en mense van alle vlakke van die lewe raak en dat almal se reis na herstel anders is.

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

Tania Coetzee

I am a passionate journalist and photographer. I have been a photographer for 15 years and a journalist for 4 years. I recently started working for Potchefstroom Herald. I love writing people's stories and showcasing their inner beauty through photography.

Related Articles

Back to top button