Twee leerders in Promosa raakgery
Die gemeenskap van Promosa is bitter, ontsteld en woedend nadat twee leerders Maandag van hulle voete afgery is.
Die gemeenskap van Promosa eis beter veiligheidsmaatreëls nadat twee leerders Maandag in Blommetjiestraat raakgery is.
Die twee leerders is glo Maandagmiddag deur ‘n wit Polo raakgery. Die kinders, twee dogters, het ernstige beserings opgedoen.
Brigadier Sabata Mokgwabone, polisiewoordvoerder, sê die SAPD in die Noordwes en Ikageng bevestig dat ‘n saak met aanklagte van roekelose en nalatige bestuur en bestuur sonder ‘n bestuurslisensie geopen is en ondersoek word.
“Die bestuurder het nie van die toneel gevlug soos beweer is nie,” het Mokgwabone bevestig.
Videos wat na die insident geneem is, wys hoe die leerders op die grond lê en sit terwyl hulle vir nooddienste wag.
Glenville Boede Fransman, ‘n gemeenskapsleier, verduidelik die gemeenskap is bitter en ontsteld nadat die twee meisiekinders ernstig beseer is en eis dat die munisipaliteit spoedhobbels, veiligheidstekens of ander, beter veiligheidsmaatreëls rondom skole in Promosa implementer.
“Die gemeenskap is woedend oor die insident. Daar is niemand wat die verkeer reguleer nie en ook geen veiligheidstekens nie. Ons doen ‘n beroep op die munisipaliteit om te help om areas rondom skole te beveilig.”
Die Herald het navraag by die plaaslike munisipaliteit gedoen, maar wag steeds vir terugvoer



