Hoër Volkskool Potchefstroom se tweede krieketspan het die afgelope naweek uitstekende spel tydens die NMI Toyota Kuruman toernooi gelewer.
Die span het teen ander skole se 1ste XI gespeel maar het met puik spanwerk en individuele vertonings hulle staal gewysIn hul eerste wedstryd teen St. Dominics College Welkom, het Volkies ’n oortuigende oorwinning van 10 paaltjies behaal. St. Dominics is beperk tot 49/9 in 17.5 boulbeurte, met uitstaande boulwerk deur Eizer Behrens (2/2), Pierre Joubert (2/8) en Hanru Combrinck (2/16). Volkies het die teiken gemaklik bereik met 50/0 in net 7.1 boulbeurte. Moses Kgokong (27 nie uit nie) en Righardt Kruger (17 nie uit nie) het die oorwinning verseël. Pierre Joubert is aangewys as speler van die wedstryd vir sy indrukwekkende bydrae met die bal.
Teen Duineveld het Volkies weereens uitmuntend gevaar. Duineveld kon slegs 62 lopies aanteken voordat hulle almal uitgeboul is. Hanru Combrinck het die teenstanders aan flarde geboul met 4 paaltjies vir net 6 lopies, terwyl Eizer Behrens (2/10) en Suresh Adams (2/15) ook goed gevaar het. Volkies het die teiken gemaklik oorskry met 64/4 in 9 boulbeurte, danksy Righardt Kruger (42 nie uit nie) se stewige kolfvertoning. Volkies het met 6 paaltjies gewen.
In die laaste wedstryd teen Centurion Hoërskool het Volkies dapper geveg, maar moes uiteindelik die knie buig. Volkies is vir 115 uitgeboul, met Damian Pretorius (23), Ben Oosthuizen (21) en Zander Nel (16) wat die meeste lopies bygedra het. Vir Centurion het Aden Schadle (3/14) en Morne Prinsloo (2/17) die skade gedoen. Centurion het die teiken van 116 lopies bereik met 6 paaltjies in hand, hoofsaaklik danksy Morne Prinsloo (59 nie uit nie) se uitstekende kolfwerk. Hy is ook as speler van die wedstryd aangewys.



