Local news

Jong Potch-entrepreneur volg in pa se voetspore

Daar is net twee dinge wat verniet is, God se genade en goeie maniere. Die res moet jy voor werk.

CJ Aldrich (14), ‘n graad agt leerder by Potchefstroom Gimnasium en een van Potchefstroom se jongste entrepreneurs, het sy eie besigheid begin sodat hy sakgeld kan verdien, min wetend watter groot sukses dit sal inhou.

Hy vertel hy het laasjaar eers gras gesny vir sakgeld, maar sy pa het hom ingelig dit is nie een van sy sterkpunte nie.

“As hy nog een keer moes grassny, sou ons vasgesit het. Hy het twee keer dieselfde sproeierkop afgesny,” sê sy pa, Neels laggend.

CJ het toe besluit om eerder iets anders te probeer om sy sakgeld te verdien.

“In die lewe het ek geleer, daar is net twee dinge wat verniet is, God se genade en goeie maniere. Die res moet jy voor werk. Dit is toe wat ons Homestead genader het en die besigheid begin het,” vertel CJ trots.

Hy braai elke Vrydag en Saterdag oorkant Homestead Slaghuis en het al altesaam 6 000 sosaties en 8 500 worsrolle verkoop. Sy besigheid is hierdie maand een jaar oud. CJ word gereeld gevra om by funksies en partytjies te braai.

‘n Tekort aan toekomsplanne het hy nie.

“Ek sal graag meer braaistalletjies rondom die dorp wil oopmaak. Ek sal ook graag na skool besigheid wil gaan studeer, maar die uiteindelike doel is om eendag Kaap toe te trek en ‘n wynplaas te koop.”

Neels vertel sy seun het in hierdie jaar verskriklik baie van besigheid en menseverhoudings geleer.

“Hy moes leer om met maklike en moeilike kliënte te werk. Hy moes ook leer beplan, voorberei en dan om na die tyd skoon te maak.”

“Mens moet nooit laat skoolgaan in die pad staan van ‘n goeie opvoeding nie,” sê CJ.

Maar wat kan mens verwag van hierdie seun wat so pligsgetrou in sy pa se voetspore volg? Neels het self op 10-jarige ouderdom die waarde van harde werk geleer. Neels se ouers het ‘n gewilde slaghuis, West End, in Kimberley besit en daar het hy van ‘n jong ouderdom af ingespring. Hy het gehelp met die opmaak van vleispakkies, biltongpakkies, vleis maal, wors stop en het selfs soms vir sy gesin kos gemaak.

Jy kan vir CJ by die braaistalletjie voor Homestead op Vrydae van 08:00 tot 17:00 en Saterdae van 08:00 tot 14:00, ondersteun.

Cj Aldrich by sy braaistalletjie.
‘n Ou uitknipsel uit die Noord-Kaap koerant.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

Tania Coetzee

I am a passionate journalist and photographer. I have been a photographer for 15 years and a journalist for 4 years. I recently started working for Potchefstroom Herald. I love writing people's stories and showcasing their inner beauty through photography.

Related Articles

Back to top button