Anonieme Potchefstromer maak harte bly met hekel-drukkies
Potchefstromers het onlangs verrassings in verskeie supermarkte in die dorp begin vind.
Potchefstromers het onlangs verrassings in verskeie supermarkte in die dorp begin vind in die vorm van gehekelde drukkies wat deur ‘n anonieme persoon daar geplaas word om mense se dag op te kikker.
Die persoon het ingestem om anoniem met die Herald te gesels.
“Ek het in die begin so 20-25 hugs uitgesit en geen terugvoer gekry nie. Toe sien ek op Facebook het iemand iets geplaas. Ek kan nie eers begin om te verduidelik hoe gelukkig dit my gemaak het nie, veral omdat dit ‘n klein dogtertjie was wat dit gekry het. Dit maak my hart warm om te weet so klein gebaartjie het iemand vir ‘n rukkie bly gemaak.”
Anoniem vertel dit is ‘n klein gebaar van vriendelikheid, nie net om mense se dag op te helder nie, maar ook om vriendelikheid aan te hits.
“Ons lewe in moeilike tye wat ons onder geweldige druk plaas. Mense sukkel en kry swaar. Soms is ‘n mens se dag sommer net deurmekaar en nie lekker nie. Om dan iewers so klein ietsie raak te loop laat mens sommer dadelik beter voel, al is dit net vir ‘n kort rukkie. Ek kan nie bekostig om mense se lewens of finansiële posisies te verbeter nie, maar ek kan wel bekostig om ‘n glimlag op hul gesigte te sit vir ‘n oomblik.”
Anoniem gaan voort om te sê sy gebruik graag 100% katoen om die hekel-drukkies te maak, maar soms word wol ook gebruik omdat katoen se kleure so beperk is.
“Ek het reeds 176 hugs uitgedeel en terugvoer van 14 mense gesien. Ek sal dit baie waardeer as mense dit ook op die Potch-groepe kan plaas met die bewoording #randomactsofcrochetkindness. Ek is nie lid van al die groepe in Potchefstroom nie, maar wel ’n paar. Dit is goed om dit op die “Random Act of Kindness”-groepe te deel, maar daardie groepe is so wyd dat plasings maklik verlore raak. Ek soek geen erkenning daarvoor nie, net soos dit iemand se dag ophelder om ‘n hug te vind, so helder dit my dag op as ek die waardering sien.”




