Ben, ‘n lewende wonderwerk na gru-ongeluk
Die ongeluk het Ben met die ergste beserings gelaat.
Ben Prinsloo sien uit daarna om sy droom om te kan boer te bewaarheid nadat hy wonderbaarlik na ‘n gru-ongeluk herstel het.
Op 17 Maart 2024 het Ben se lewe onherroeplik verander in ‘n motorongeluk tussen Potchefstroom en Stilfontein. Ses mense, waarvan vier jong mans en twee vroue, is in die ongeluk beseer. ‘n Sewende persoon is na die ongeluk in die hospitaal oorlede.
Volgens ‘n ooggetuie het die drywer van ‘n bakkie, wat glo besope was, sonder enige ligte oor die Buffelsfontein-kruising op die N12 gery en teen die Haval, waarin die vier jong mans was, gebots. Die twee vroue was insittendes van die bakkie. Die ongeluk het omstreeks 02:15 daardie oggend gebeur.
Die ongeluk het Ben met die ergste beserings gelaat. Benewens ‘n beseerde nek en heup, het hy ‘n skedelbreek met breinbloeding opgedoen wat tot breinskade gelei het, terwyl sy femur ook gebreek is. Hy was vir drie weke in ‘n koma. In daardie tyd het hy in die hospitaal ‘n infeksie opgedoen. Dokters het vir sy ma gesê hy gaan dit nie maak nie. Vriende, familie, Volkies en inwoners van Potchefstroom het vir 48 uur vir sy herstel gebid.
Alhoewel Ben se gesondheid baie verbeter het, het hy einde Mei 2024 ‘n beroerte gehad. Ben was vir maande in ‘n rolstoel by ‘n rehabilitasiesentrum.
Dit gaan nou uitstekend met Ben. Hy het so te sê volkome herstel.
Sy ma, Bernice Prinsloo, vertel Ben het in Oktober ‘n groot skedeloperasie ondergaan.
“Die operasie was ‘n sukses. Met die hulp van Bert Hatting asook Donne en Blanche van Hatting Fisioterapie, loop Ben al en vorder uitstekend. Ek het soveel dankbaarheid. Ben praat vlot, hy kan albei sy arms en hande gebruik, sy geheue is uitstekend en daar is geen teken van breinskade nie. Alle eer aan God. Dit is nog net sy linkervoet wat heeltemal moet herstel. Hy sien uit om binnekort weer te begin werk, boer natuurlik soos sy droom nog altyd was.”






