Local news

Vermeende kabeldiewe in hof

Volgens die jongste inligting is slegs een van die vyf beskuldigdes ’n Suid-Afrikaanse burger.

Vyf verdagtes wat in verband met die diefstal van Transnet-aluminiumkabels met ’n geskatte straatwaarde van R2,7 miljoen in Potchefstroom in hegtenis geneem is, bly in aanhouding.

Die verdagtes het vandag, Maandag 23 November, in die Potchefstroom-landdroshof verskyn, waar hulle in aanhouding gehou is totdat hulle weer op Dinsdag, 1 Desember in die hof moet verskyn.

Volgens die jongste inligting is slegs een van die vyf beskuldigdes ’n Suid-Afrikaanse burger. Die Departement van Binnelandse Sake moet nog bevestig of die ander vier verdagtes wettiglik in die land is.

Die verdagtes is geïdentifiseer as Thabo Majoro (41), Evans Kachese (23), Meck Rasoeu (52), Phole Nthunya (25) en Teboho Masiu (42).

Majoro, Nthunya en Masiu is van Lesotho, terwyl Kachese ’n Zimbabwiese burger is. Rasoeu is die enigste Suid-Afrikaanse burger onder die beskuldigdes.

Die vyf is vroeg Vrydagoggend, 20 November, deur lede van die Potchefstroomse Misdaadvoorkomingseenheid en reaksie-eenheid in hegtenis geneem nadat 5,3 ton Transnet-aluminiumkabels teruggevind is.

Die kabels, met ’n geskatte straatwaarde van R2,7 miljoen, is in ’n vragmotor aangetref wat vanuit die Mooibank-omgewing in die rigting van Potchefstroom beweeg het.

Volgens die polisie het lede op inligting van die Belrex-kameratoesigstelsel gereageer oor die verdagte vragmotor. Twee verdagtes is in die vragmotor in hegtenis geneem.

Verdere ondersoek het aan die lig gebring dat ’n wit Mazda glo die vragmotor begelei het. Die drie insittendes is ook in hegtenis geneem nadat hulle nie ’n bevredigende verduideliking vir die besit van die kabels kon gee nie.

Transnet-amptenare het die kabels as die maatskappy se eiendom geïdentifiseer. Die kabels en albei voertuie is deur die polisie op beslag gelê.

Sake van beskadiging van noodsaaklike infrastruktuur en die besit van vermoedelik gesteelde eiendom is geopen en word ondersoek.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

Tania Smith

As a passionate journalist and photographer, I strive to tell meaningful stories through both words and images. With a keen eye for detail and a love for people and their stories, I aim to capture the heart of every moment and bring local news and community stories to life.

Related Articles

Back to top button