NewsNews

Polisie ontlont gespanne situasie

Die polisie se onderhandelaarspan het Dinsdagaand ’n gespanne situasie in Bachlaan ontlont, waar ’n man gedreig het om homself te skiet. ’n Deel van Bachlaan was versper en inwoners wat na 20:00 by dié kompleks wou ingaan, moes maar wag tot die situasie veilig was. Lede van die polisie se onderhandelaarspan het sedert 20:00 gespook …

Die polisie se onderhandelaarspan het Dinsdagaand ’n gespanne situasie in Bachlaan ontlont, waar ’n man gedreig het om homself te skiet.

’n Deel van Bachlaan was versper en inwoners wat na 20:00 by dié kompleks wou ingaan, moes maar wag tot die situasie veilig was. Lede van die polisie se onderhandelaarspan het sedert 20:00 gespook om die man sover te kry om die haelgeweer aan hulle te oorhandig. Mense op die toneel het in gedempte stemme gepraat, om sodoende die reeds gespanne en gevaarlike situasie nie te vererger nie.

Die onderhandelaarspan het die middeljarige man, wat tans by vriende bly terwyl sy skeisaak afgehandel word, deur die deur en vensters probeer ompraat om die vuurwapen neer te sit. ’n Klapgeluid is omstreeks 22:30 gehoor en daar is gevrees dat die man gewelddadig geraak het. Teen 23:30 het die polisie dit egter reggekry om die vuurwapen by die man af te neem. Die polisie moes later noodgedwonge die deur oopbreek om die man vir observasie na die hospitaal te neem. ER24 was byderhand om die man met ’n kalmeermiddel in te spuit sodat hy homself nie beseer nie. Teen 01:00 Woensdagoggend is die man by die hospitaal ingeteken.

’n Saak van die nalatige beheer en hantering van ‘n vuurwapen word ondersoek. Die polisie het ’n paar veiligheidswenke gegee as iemand hulself ooit in so ‘n situasie sou bevind. Moet nooit ’n held probeer wees nie, kontak onmiddellik die polisie. Wanneer daar met die polisie gepraat word, gee soveel inligting moontlik soos die adres van die voorval, ’n kort beskrywing van die situasie, die aantal mense betrokke, die mediese geskiedenis of alkohol- en dwelmmisbruik geskiedenis, watter wapens die persoon het, die rede vir die persoon se optrede en ook of enige eise deur die persoon gestel is.

Onderhandelaars van die polisie gee aandag aan selfmoord en gyselaarstonele, maar is ook betrokke by ontvoeringsake, afpersing waar een persoon ’n ander afpers om skade te verrig asook arbeidsverwante kwessies waar mense se lewens in gevaar gestel word.

Vir enige navrae kan mnr. Werner Scheffer, provinsiale koördineerder geskakel word by 082 529 7858 of (018) 299 7663.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Related Articles

Back to top button