Editor's choiceNewsNews

Tweede eis teen omstrede verkeersman

Nog ’n siviele eis gaan teen die stadsraad ingestel word na aanleiding van ’n omstrede verkeersman se tweede gewelddadige optrede tydens inhegtenisnemings. Die verkeersbeampte, mnr. Papi Radebe, was verlede week in die nuus nadat die stadsraad met ’n vorige slagoffer van Radebe wat ook gewelddadig deur hom hanteer is, buite die hof vir R80 000 …

Gerhard Uys staan by die hek va nsy werksplek waar hy wou ingaan
Gerhard Uys staan by die hek va nsy werksplek waar hy wou ingaan

Nog ’n siviele eis gaan teen die stadsraad ingestel word na aanleiding van ’n omstrede verkeersman se tweede gewelddadige optrede tydens inhegtenisnemings.

Die verkeersbeampte, mnr. Papi Radebe, was verlede week in die nuus nadat die stadsraad met ’n vorige slagoffer van Radebe wat ook gewelddadig deur hom hanteer is, buite die hof vir R80 000 geskik het.

Die jongste eis gaan oor ’n inwoner wat in 2012 tydens ’n besoek van president Jacob Zuma in Potchefstroom in hegtenis geneem is.

Mnr. Gerhard Uys is in Desember 2012 deur Papi Radebe op aanklag van dwarsboming van die gereg en poging tot moord in hegtenis geneem. Dit is later verander na aanranding met die opset om ernstig te beseer.

Volgens Uys het hy die betrokke dag by die werk op die hoek van Rivier- en Du Plooystraat aangekom, toe hy sien dat die pad versper is. President Zuma het die stad kom besoek om binnegevegte in die ANC te probeer uitklaar.

Papi Radebe, wie vir 'n tweede keer 'n siviele eis teen hom het
Papi Radebe, wie vir ‘n tweede keer ‘n siviele eis teen hom het

“Ek het twee van die beamptes gaan vra hoekom die pad versper is, omdat daar geen kennisgewing was oor dié versperring nie. Hulle kon nie vir my ’n antwoord gee nie. Hulle het so ‘n rukkie op die radio gepraat, toe kom die verkeersvoertuig daar aan. Hulle het vir my gesê dat ek met die verkeersbeampte (Radebe) moet gaan praat.

“Ek het gegaan en myself voorgestel en vir hom verduidelik dat ek graag wil weet waarom die pad versper is, omdat die gebou aan my behoort en ek niks weet van die versperring nie. Hy het vir my gesê dat dit niks met my uit te waai het nie,” vertel Uys. Volgens Uys het hy vir Radebe gesê dat as hy nie weet wat aangaan nie, hy sy hoof moet vra waarom die pad toe is. Radebe het gesê dat dit nie sy werk is om boodskappe aan te dra nie. Uys het hom toe gevra om homself te identifiseer omdat hy dit self sou opneem met die verkeershoof.

“Hy het weer vir my gesê dat dit niks met my uit te waai het nie en het begin aggressief raak,” vertel Uys. Uys het in sy voertuig geklim om by die hek in te ry sodat sy werksdag kan begin. “Die volgende oomblik het hy teen my venster geslaan en daarop aangedring dat ek my bestuurslisensie vir hom gee. Ek het gevra hoekom hy my lisensie wou sien, maar hy het net aangehou vra. Naderhand het ek vir hom gesê dit is reg, ek gaan net my voertuig parkeer dan wys ek vir hom my lisensie.”

Uys vertel dat die venster nie heeltemal oop was nie. Voordat hy kon wegtrek in die parkeerterrein in, het Radebe die sleutels uit sy voertuig probeer gryp. “Hy het my gegryp terwyl hy die sleutel probeer uittrek het. ‘n Stoeiery het ontstaan, ek het gekeer en probeer om die deur oop te maak. Naderhand het ek die venster oopgemaak en hy het my aan my belt gegryp en probeer om my by die venster uit te ruk. Op die ou end het ek dit reggekry om hom weg te stamp en die deur oop te kry. “Hy het gesê dat hy my in hegtenis gaan neem. Ek wou weet waarom, maar hy het sy boeie gegryp en my regterhand geboei. Hy het my hand begin ombuig terwyl ek vir hom sê dat hy besig is om my seer te maak,” vertel Uys.

Volgens Uys het daar binne oomblikke ses ander beamptes opgedaag asook een senior beampte. Nadat Radebe met dié senior beampte gepraat het, is daar vir Radebe aangesê om aan te gaan met die inhegtenisname van Uys. “Hy het my in die selle gegooi sonder om homself te identifiseer of om vir my te sê waarvoor ek aangekla word. Die polisiemanne in die selle het glad nie my regte vir my voorgelees of niks nie, hulle het net iets geteken en my in die selle toegesluit,” vertel Uys.

Hy sou eers heelwat later uitvind dat hulle hom gaan aankla vir dwarsboming van die gereg en poging tot moord, wat later verander is na aanranding met opset om ernstig te beseer. Die vrouebeampte wat saam met Radebe was, het beweer dat Uys haar met sy voertuig gestamp het. “Ek is later met voet- en handboeie na die hof geneem en moes borgtog van R1 000 betaal. Ek is uiteindelik onskuldig bevind.

Die landdros het die vrou se getuienis oor die poging tot moord as belaglik beskryf. Van 2012 tot nou het ek maklik agt keer al in die hof verskyn,” vertel Uys. Hy glo dat die saak sy professionele reputasie aangetas het. Hy wonder of daar nou ooit opgetree gaan word teen Radebe. “Ons bevestig dat mnr Uys onskuldig bevind is en dat daar ‘n siviele saak teen die Raad ingedien word.

Die munisipaliteit sal ondersoek instel na die omstandighede van die genoemde arrestasie en die hofuitspraak bestudeer voordat enige aksie of reaksie oorweeg word. Die siviele eis word tans hanteer deur die prokureurs van ons versekeraars en ons is dus nie in staat om enige verdere kommentaar in hierdie verband te lewer nie.” Het William Maphosa, woordvoerder van die stadsraad gesê.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Related Articles

Back to top button