BlogsNewsNewsOpinions

Op Patrollie in Potchefstroom

Dit is koud hier in Potchefstroom as die son eers gaan sak het. Nou was die krag ook nog af. My gevoel is dat misdaad vanaand gaan seëvier.

Dit is koud hier in Potchefstroom as die son eers gaan sak het. Nou was die krag ook nog af. My gevoel is dat misdaad vanaand gaan seëvier.
Tog is dit rustig in die strate van Potchefstroom, behalwe vir die massas studente wat op die Bult kuier, gaan dit heel rustig. Ek en Mooirivier Beskerming se manne doen weer patrollie, alles is so stil dat ek Christiaan aan die gesels begin raak oor vorige voorvalle. Hy draai die radio ’n klein bietjie sagter dat ons mekaar kan hoor.
“Met die krag wat af was gaan daar weer hordes ‘vals alarms’ afgaan,” vertel hy.
Ons kyk mekaar nie in die oë terwyl ons gesels nie, daar word heeltyd gekyk vir verdagte optrede.
“Net die vorige aand was daar twee inbraak pogings omtrent ’n blok van mekaar af. Ek het vermoed dat die manne gaan terugkom om weer te probeer,” vertel Christiaan.
Maar teen 23:00 is daar nog niks nie, die Mooirivier manne hanteer al die alarms waarna nog omgesien moet word vandat die krag weer aangegaan het. Ons stop ’n ruk op die Bult nadat ons gehoor het van ’n bakleiery wat aan die roer is. Die polisie se honde-eenheid is op die toneel om die vrede te bewaar. So staan ons maar almal en gesels terwyl daar ’n wakende oog oor die Bult gehou word.
Die polisie se teenwoordigheid waarsku almal dat daar opgetree sal word indien daar enige moeilikheid is. Naderhand raak dit weer te koud om nog verder buite te gesels, ons val weer in die pad. Ek dink aan die manne en vroue in blou wat in daardie weer nog buite is en onmiddellik waardeer ek hulle opoffering.
Nog ’n draai om die Bult, deur die woonbuurte, weer deur die dorp. ’n Paar jonges stap huis toe van ander kuierplekke in die dorp af, stadig agter hulle om seker te maak hulle bly naby.
Toneelstories word uitgeruil, Christiaan vertel van ’n voertuig wat deur ’n muur gery het. Volgens die twee jong vroue in die voertuig het hulle nie bestuur nie, maar een van die mans wat saam hulle in die voertuig was. Dié het nou weggehardloop.
“Toe ek vra wie die ouens is het hulle net gesê hulle weet nie, hulle het die ouens ’n uur gelede in ’n kuierplek ontmoet,” vertel Christiaan.
Teen 02:00 is ons reg om dit maar ’n aand te roep, daar het niks gebeur nie. Maar dan raak die radio weer lewendig, alarm afgegaan by die banketsale. Op pad soontoe maak ons seker Mooirivier se beheerkamer kry die polisie ook uit. Met ons aankoms daar het Mooirivier se reaksiespan reeds die verdagtes gevang. ’n Jong man van ongeveer 21 jaar en sy meisie, omtrent dieselfde ouderdom. Eers wil hulle nie met ons praat nie, die man sê vir die reaksiebeamptes om terug te klim in sy voertuig. Hy is duidelik onder die invloed. Spoedig is die polisie op die toneel, die man weier om met die polisie te praat. Hy vat die eienaar aan, waarna die eienaar die saak verder wil laat vat. Die man word in hegtenis geneem vir inbraak, asook vir die beskadiging van eiendom.
Vensters binne die saal is gebreek, die man en sy meisie se eerste storie is dat hulle in die saal toegesluit is toe die mense gesluit het na ’n funksie. Albei van hulle was in die mansbadkamer toe die deure gesluit is, hoewel die storie weer verander het hoe langer hy in aanhouding was. Die eienaar erken dat as dit nie vir sy arrogante houding was nie sou hy dit seker nie sover gevat het nie. Nie heeltemal wat ons verwag het nie, maar teen 04:00 is die man polisiestasie toe. Ons roep dit maar ’n aand, ons is moeg en koud. Potch is vir nog ’n aand veilig, Mooirivier het vanaand bewys hoe hulle saam met die polisie kan werk om die stad veiliger te hou. Ek is self verbaas met die goeie gesindheid wat oorheers, ek sou dink dat daar ’n tipe van kompetisie sou ontstaan tussen ’n sekuriteitsmaatskappy en die polisie, maar op die ou einde het hulle dieselfde doel, om die stad veiliger te maak.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

Dustin Wetdewich

I have been a journalist with the herald since 2014. In this time I have won numerous writing awards. I have branched out to sport reporting recently and enjoy the new challenge. In 2019 I was promoted to Editor of the Herald which brings another set of challenges. I am comitted to being the best version of myself.

Related Articles

Back to top button