’n Bees is deur ander beeste doodgetrap terwyl hulle verlede Vrydag op pad was na ‘n veiling.
Volgens Sunè Engelbrecht van die Potchefstroom DBV is hulle deur die veediefstal-eenheid ontbied, waar hulle die beeste gevind het.
“Daar was ses beeste op die een sleepwa. Dit lyk asof een geval het, waarna die ander beeste hom toe doodgetrap het,” het Engelbrecht gesê.
Die DBV het ’n waarskuwing uitgereik aan die eienaar van die beeste vir dieremishandeling.
Die veediefstal-eenheid het ook sowat R3 000 se boetes aan die eienaar uitgereik omdat hy die sleepwa oorlaai het, en ook omdat daar nie ’n vervoerpermit vir die beeste was nie.
Volgens Engelbrecht werk die DBV saam met die polisie se veediefstal-eenheid om die saak verder te neem. Die DBV het die oorlewende beeste teen uitputting en dors behandel.




