Daar is baie onpadwaardige voertuie op die pad tydens die feestyd, maar die voertuig wat Woensdag deur die polisie afgetrek is, vat die koek. Die polisie het die voertuig in die nywerheidsgebied opgemerk, waarna hulle die bestuurder van die voertuig voorgekeer het. Die Tlokwe verkeer is daarna ontbied.
Verkeersbeamptes Rheretyane en Kwakwa het die voertuig ondersoek en die man aangekla omdat dit nie padwaardig is nie. Die voertuig het aan die regterkant glad nie deure nie, dele van die bakwerk is met draad vasgemaak en asof dit nie genoeg is nie, het die man ook nie ’n bestuurslisensie nie. Die voertuig moes weggesleep word en die man het weggestap met ’n boete van sowat R3 000.



