Wanneer ’n groep skole wat slegs 5,3% van alle skole in Suid-Afrika beslaan meer as 28% van die land se wiskunde onderskeidings behaal, weet jy dat jy te doen het met wêreldgehalte wiskunde-onderrig. Hierdie uitsonderlike prestasie is behaal deur die leerlinge van slegs 358 Afrikaanse hoërskole (5,3%) in Suid-Afrika wat 2193 onderskeidings (28,2%) in wiskunde behaal het. Die verhouding van die aantal onderskeidings per skool is meer as 500% beter by Afrikaanse skole as by die res van Suid-Afrika se skole.
Indien alle skole in Suid-Afrika soos Afrikaanse skole presteer het, sou daar meer as 40 000 wiskunde-onderskeidings in die 2015-matriekeksamen gewees het – daar was egter slegs 7 791. “Hierdie ontleding toon duidelik dat ’n handjievol Afrikaanse skole uitermatig goed presteer in wiskunde. Ons wil graag alle leerlinge gelukwens wat onderskeiding in wiskunde behaal het en wil spesifiek die Afrikaanse skole en hul onderwysers gelukwens,” sê Hugo Vermeulen, Hoof van die Helpende Hand Skoleondersteuningsentrum(SOS). “Dit sluit in: Paul Roos-Gimnasium (68 onderskeidings), Die Hoërskool Menlopark (64), Hoërskool D.F. Malan (58), Afrikaanse Hoër Meisieskool Pretoria (48), Hoërskool Parel Vallei (48), Hoër Meisieskool Bloemhof (47), Hoërskool Waterkloof (41), Gimnasium Paarl (36) en Hoërskool Eldoraigne (36).
Die 5 beste wiskunde-skole in 2015 was Bishops (72 onderskeidings), Paul Roos-Gimnasium (68), Die Hoërskool Menlopark (64), Westville Boys High School (61) en Pretoria Boys High School (59).
Alhoewel die aantal wiskunde-onderskeidings toegeneem het van 7216 in 2014 na 7791 in 2015 is dit wel ’n klein afname van 0,2%, maar die aantal leerlinge wat wiskunde in 2015 afgelê het, het toegeneem met 38445.
Die LUR vir Basiese Onderwys vir Gauteng, Lesufi het Woensdag, 6 Januarie erken dat daar ’n groter fokus op Wiskunde en Fisiese Wetenskap moet wees. “Ons aanbeveling aan die Departement van Basiese Onderwys en Mnr. Lesufi is om suksesse soos Afrikaanse wiskunde-onderwys te bestudeer en by Afrikaanse skole te kom leer hoe om sukses in hierdie vakgebiede te behaal” sê Vermeulen. “Passievolle, roepingsgedrewe onderwysers met ’n diep kennis van hulle vakgebied sal altyd sulke uitslae oplewer ten bate van die leerlinge in ons onderwysstelsel en ons land.”



