Potch kolwer skitter by o.19 Coke Week
Ruan Haasbroek was die naam op almal se lippe na sy pragvertonings vir Noordwes in die 2015 Khaya Majola Krieketweek wat vanaf 16-20 Desember in Port Elizabeth plaasgevind het. Dié kolwer van Gimmies was grootliks verantwoordelik vir altwee van sy span se oorwinnings in die week, met veral sy onoorwonne 101 teen Grens wat die …

Ruan Haasbroek was die naam op almal se lippe na sy pragvertonings vir Noordwes in die 2015 Khaya Majola Krieketweek wat vanaf 16-20 Desember in Port Elizabeth plaasgevind het.
Dié kolwer van Gimmies was grootliks verantwoordelik vir altwee van sy span se oorwinnings in die week, met veral sy onoorwonne 101 teen Grens wat die wenkbroue laat lig het.

Algeheel het Haasbroek 296 lopies in die toernooi se vyf wedstryde geslaan, wat ‘n tydkrieketstryd, T20 en eendagwedstryde ingesluit het. Sy kolfgemiddeld was 62,5 en het deurgaans bewys dat hy ‘n kolwer vir enige soort krieketformaat is.
Sy dekhoue op die voorvoet en sy dryfhoue was iets om te beleef tydens sy pragbeurt van 101 teen Grens op die eerste dag. Na Haasbroek sy honderdtal behaal het het hy triomfantlik gejuig, in die lug gespring en sy kolf na bo gelig. Die glimlag op sy gesig het boedkdele gespreek en nog ‘n opwindende hoofstuk vir die talentvolle speller begin. Hy is vir sy goeie vorm met ‘n plek in die SA Coltsspan beloon waar hy met sy kolfwerk en draaibalwerk skade sal kan aanrig.
Sy insluiting tot die span is nie noodwendig ‘n verrassing nie, na ‘n uitstekende 2015 met beide die kolf en bal vir sy skool.
Verder het hy ook sy leierseienskappe die afgelope seisoen bewys deur Gimmies na die Noordwestitel te lei na ‘n naelbytstryd teen Hoër Volkskool Potchefstroom.
Die SA Coltsspan is tans in Stellenbosch waar hulle vanaf 4-8 Januarie in die Krieket Suid-Afrika se Cubs Week deelneem. Haasbroek het alreeds in hierdie week ’n vyftigtal behaal met ’n blink 69 vir die Bizhub Lions Cubsspan in die Cubs Week.
Haasbroek sal verdere geleentheid met altwee hande wil aangryp en sy 2016 op ‘n hoë noot te begin en gedurig die regte note op die veld te speel.
SA Coltsspan
Willie Ludick (Waterkloof, Noordelikes – Kaptein), Ziyaad Abrahams (Westelike Provinsie), Eathan Bosch (Hilton Kollege, Kwa-Zulu Natal Binneland), Okuhle Cele (Glenwood High, KwaZulu-Natal), Chad Claassen (St. David’s Marist Inanda, Gauteng), Jade de Klerk (Woodridge Kollege, Oostelike Provinsie), Jean du Plessis (Glenwood House, SWD), Aaqil Ebrahim (Rondebosch Boys’ High, Westelike Provinsie), Ruan Haasbroek (Potchefstroom Gimnasium, Noordwes), Sinegugu Maseko (HTS Witbank, Mpumalanga), Bryce Tullis (Maritzburg College, KwaZulu-Natal Binneland), Joel Veeran (Glenwood High, KwaZulu-Natal).
Afrigters: Deon Botes (Affies) and Wandile Gwavu (OP)
Bestuurder: Pierre Hugo



